EWIGE STRAF

EWIGE STRAF. 1. As donker keersy van die ewige lewe* word die verskrikking van die ewige straf (en verwante sake soos oordeel en hel*1,2) in die Nuwe Testament* veral uitgebeeld as onophoudelike pyni­ging deur vuur (Mark 9:43-48). 2. Deur die eeue is dit dikwels letterlik opgevat. Dat dit egter figuurlik bedoel word, blyk daaruit dat ook die dood* en doderyk* in die vuurpoel gegooi word (Op 20:14); en uit ’n tweede beeld: diepste duisternis (Matt 8:12). 3. Eerder as om op die voorstellingswyse te fikseer, moet ons op die inhoudelike daarvan let, naamlik die finale verbanning uit die teenwoordigheid van God en sy seëninge in Christus* (2 Tess 1:8-9). Dáárin lê die eintlike verskrikking. 4. Ewige lewe en ewige straf, vryspraak en veroordeling, hemel* en hel word nié as gelykwaardige moontlikhede voorgehou nie. Juis vanweë die parallelle opbou van Jesus* se profetiese rede (Matt 25:31-46), is die verskil so opvallend: Vir die “geseëndes” is die koninkryk* as erfenis voorberei (vers 34), maar die ewige vuur nie vir die “vervloektes” nie, maar vir die duiwel* en sy trawante (vers 41; Op 20:10). Met die sending van sy Seun het God ’n heilsbedoeling (Joh 3:16-17; 2 Pet 3:9). 5. Die Skrif* (by name Paulus*) ken nie ’n ewige verdoemenis as die parallelle teenoorgestelde van die ewige lewe in Christus nie. In al die Skrifdele waar Paulus van “verderf” praat, is dit net in 2 Tess 1:9 waar ’n “ewige verderf”/”ewige verdoemenis” ter sprake kom, en dan is ’n beter vertaling ’n “ewige vernietiging”: ’n vernietiging wat finaal is, waar daar nie herstel moontlik is nie, waar God nié meer teenwoordig is nie. Dit is hel.

Vir verdere lees: H Berkhof 1973. Christelijk geloof. Nijkerk: Callenbach. GE Ladd 1975. “Eschatology” in JD Douglas (red), The New Bible Dictionary. Londen: IVP. A König 1980. Jesus die Laaste. Pretoria: NGKB.

Sidebar