EX CATHEDRA-UITSPRAKE

EX CATHEDRA-UITSPRAKE. Die Katolieke Kerk* aanvaar dat Christus* aan sy kerk* die charisma* (gawe) van onfeilbaarheid geskenk het in haar taak om dít wat Hy geopenbaar het, bekend te maak. Sodoende kan lidmate sekerheid hê oor die waarhede wat in die openbaring* opgesluit is. Die Katolieke Kerk se mondstukke in die amptelike verklaring en verkondiging van hierdie tradisie, is ’n algemene kerkvergadering en soms die pous* buite so ’n kerkvergadering. Die pous beoefen hierdie “gawe van onfeilbaarheid” wanneer hy ’n uitspraak maak wat aan sekere vereistes voldoen. So ’n uitspraak heet ’n ex cathedra-uitspraak. Cathedra is die Latynse woord vir ’n stoel, en in hierdie verband die pouslike ampstoel. Die voorwaardes is dat die pous oor geloof*sake of moraliteit (Kyk by: Moraal) praat, in sy hoedanigheid as herder en leermeester van die kerkgemeenskap, met doelbewuste beoefening van sy gesag as opvolger van die apostel Petrus*, met die bedoeling dat hierdie leerstelling deur alle lidmate as amptelike uitlegging van God se openbaring aanvaar moet word. Die pouse het deur die eeue heen hierdie leergesag beoefen, maar dit is eers in 1870 deur die eerste Vatikaanse Kerkvergadering (Vati­kaanse konsilie*) as openbaringswaarheid verklaar.

Vir verdere lees: J Neuner en J Dupuis 1983. Christian Faith in the Doctrinal Documents of the Catholic Church. Lon­den: Collins.

Sidebar