EYBERS, ELISABETH FRANÇOISE

EYBERS, ELISABETH FRANÇOISE (1915–2007) is as pastoriedogter op Klerks­dorp gebore en het haar grootwordjare op Schweizer-Reneke deurgebring. In haar skrywersloopbaan van sewentig jaar lewer sy 21 bundels. Haar verse karteer haar eie lewenservaring. Haar vroeë werk toon ’n religieuse (godsdienstige) inslag, maar latere werk word deur agnostisisme* gekenmerk. In haar debuutbundel Belydenis in die skemerlig (1936), word Maria*1 se lyding in die bekende gedig “Maria” geringer geag as dié van Jesus*, omdat sy by die kruis kan omdraai, terwyl Christus* die sonde van die hele wêreld moet dra. Dit is ’n onbetwiste hoogtepunt van die gedigteskat uit die 1930’s. Haar vroeër verse betrek aspekte van vrou- en ma-wees wat algaande die aksent dra van hartseer ná ’n mislukte huwelik*. Met ’n groter afstand op die self verruim haar belangstellingsveld. Sy verhuis in 1961 na Amsterdam en in die eerste bundels daarná vorm moeilike aanpassing in die vreemde, die herwinning van ewe­wig ná ’n emosionele krisis en nuwe verhoudings die kerngedigte. Geleidelik staan besinning oor ouderdom en die dood* meer sentraal. Die beswerende inslag van hierdie verse lei haar gaandeweg om die dood as werklikheid te aanvaar. Eybers, die vrou onder die “Digters van Dertig”, het van die belangrikste Afrikaanse* en Nederlandse literêre pryse ontvang – in albei dié tale word sy as groot digter geag.

Vir verdere lees: Ena Jansen 1996. Afstand en verbintenis: Elisabeth Eybers in Am­sterdam. Pretoria: JL van Schaik Akademies.

 

Sidebar