FARAO

FARAO is die titel van die koning van Egipte*. Die farao was die absolute heerser oor die twee dele van Egipte (Bo- en Bene­de-Egipte) en is as goddelik beskou. Die farao is dikwels as die seun van die songod Ra* beskryf, wat ná sy dood Ra begelei het tydens sy togte deur die hemelruim en die doderyk. Die farao het ook die funksie van hoëpriester in die tempels van Egipte vervul en moes as sodanig daaglikse godsdienstige rituele uitvoer om die welwese van die hele kosmos te verseker. Verskillende dinastieë van farao’s het gedurende die drieduisendjarige bestaan van die Egiptiese Ryk oor Egipte regeer. Die farao het die mag gehad om enige wet of regulasie uit te vaardig en was ook die militêre bevelvoerder van die leër, wat besluit het oor oorlog of vrede. Hy is egter bygestaan deur ’n elite van raad­gewers, amptenare en priesters. Die farao het ’n harem van vroue gehad wat vir hom ’n nageslag moes verseker. Feitlik in alle gevalle was die farao ’n man, hoewel dit in baie uitsonderlike gevalle ook ’n vrou kon wees (bv Hatshepsut en die be­kende Kleopatra* VII). Vir die Ou-Testamen­tiese* periode was farao Rameses* II, Sisak* (Toetmoses III) en Neko* II die belangrikste.

 

Sidebar