FARISEERS

FARISEERS. Bronne oor die Fariseërs vóór 70 nC is beperk. Die Qumran*-dokumente (Kommentaar op Nahum 3-4 II 8-9; Kodeks Damaskus 1:11-13) en veral die Joodse historikus Flavius Josefus* (Oudhede van die Jode 13:172-173, 296-298, 408; 17:13-14, 149; 18:12-15; Joodse oorlog 2:162, 649; Outobiografie 190-191), skets die belangrikste aspekte van hierdie beweging.

“Fariseër” kom van prš (afsonder – He­breeus*), en die perûšîm (Afrikaans: “piroe­sjiem”) bestaan reeds vanaf 161 vC met die Makkabese opstande (Kyk by: Judas* Mak­ka­beus). Die Fariseërs het hulle van die gewone volk onderskei deurdat hulle nou­geset probeer het om die wet* in die alle­daagse lewe te volg en die volk wou leer om ook so te maak. Die volk word geheilig as hulle die reinheidswette (Kyk by: Rein) wat vir die tempel* bedoel was, in die alle­daagse lewe toepas. Veral die wette vir die voorbereiding van kos, begrafnisprosedu­res, afsondering van onrein voorwerpe en persone, en wette oor die gee van tiendes*, was belangrik. Deur die volk te leer om as “heilige priesterdom” te leef (vgl Eks 19:6), het die priesters* se gesag gekwyn. Jerusalem* se val en die vernietiging van die tempel*3 in 70 nC lui die einde van die offer*rituele en die priesters se mag in. Die Fariseërs was toe dié groep wat die Jode­dom (Kyk by: Jood) rondom die alledaagse onderhou­ding van die wet herenig en heropgebou het.

Die Fariseërs het hulle van die leiersgroep onder die priesters, die Sadduseers*, onderskei deur aan die opstanding* van die wetsgetroues uit die dood en die laaste oordeel* oor die sondaars* te glo. Gevolglik glo hulle ook dat daar ’n balans bestaan tussen God se beskikking en die mens se vrye* wil om keuses uit te oefen. Benewens die vyf boeke van Moses* (die Pentateug*), glo die Fariseërs ook aan die oorgelewerde mondelinge uitleg van die wet (Kyk by: Bybel: Mondelinge oordrag). Hierdie uitleg beskerm die wet soos ’n kraalmuur.

Anders as die skrifgeleerdes* (’n opgeleide beroepstand) en die priesters* (van adellike afstamming), was die Fariseërs ’n lekebeweging waarby mense uit oortuiging aangesluit het. Daar was egter ook skrifge­leerdes onder hulle om die wet aan mense te leer. Markus* praat tereg van die “skrifge­leerdes van die Fariseërs” (2:16).

Die Fariseërs was Jesus* se belangrikste teenstanders. Paulus* was ’n Fariseër wat, voor­dat hy tot apostel* geroep is, die Christen-wetsoortreders wou vernietig (Fil 3:5; Gal 1:14; Hand 22:3).

Sidebar