FATALISME

FATALISME is ’n ou filosofiese standpunt wat aanvoer dat dit nutteloos is om die toe­koms in die een of ander rigting te probeer beïnvloed, aangesien gebeure in die toe­koms vooraf vasgestel of bepaal is, en niks wat ons doen, enigiets daaraan kan verander nie. Dis die argument wat aanvoer: que sera, sera: wat sal gebeur, sal wel gebeur (ongeag wat enigiemand ook al daaraan probeer doen). ’n Tipiese fatalistiese argument lyk soos volg:

Premis 1: As ek bestem is om my eksa­men deur te kom, sal ek dit deurkom, on­geag of ek my daarop voorberei of nie.

Premis 2: Insgelyks, as ek bestem is om my eksamen te druip, sal ek druip of ek my daarop voorberei of nie.

Gevolgtrekking: Om vir die eksamen voor te berei, dien geen doel nie.

Hierdie argument het ’n invloed uitgeoefen in die teologiese besinning oor die uit­ver­kiesingsleer*. Die probleem is: as alles wat met ons as mense op aarde (en hierna) gebeur, vooraf deur God bestem is, watter sin het dit om, byvoorbeeld, tot bekering* te kom of om te bid*? Niks wat ons doen, kan immers dan God se vooraf bestemde raadsplan* verander nie.

Fatalisme hou klaarblyklik nie rekening met die mens se eie verantwoordelikheid nie.

Vir verdere lees: http://plato.stanford. edu/entries/ fatalism.

Sidebar