FAURE, HENDRIK EMMANUEL

FAURE, HENDRIK EMMANUEL (1829–1898), seun van dr Abraham Faure*, het ná sy studie in Nederland ’n beroep na die NG gemeente Pietermaritzburg (Gelof­te­kerk) aanvaar. Met sy bevestiging op 9 Mei 1853 word hy die eerste volwaardige Hol­lands­sprekende predikant* van die oudste Voortrekker*gemeente*.

Die Geloftekerk was destyds in ’n vervalle toestand en die kerkraad het besluit om ’n nuwe kerk op te rig. Faure het pro­beer om die owerhede te oorreed om weer die aangrensende eiendom (Erf 33) aan die gemeente terug te gee vir die oprigting van die nuwe gebou. Vanweë die gedoente met die Britse oorname van Natal in 1843, is daar egter versuim om dié betrokke erf in naam van die kerkraad te registreer. Faure en die kerkraad moes gevolglik ’n nuwe kerk op dieselfde perseel langs die Gelofte­kerk oprig. Swak gesondheid het hom in 1859 gedwing om die gemeente te verlaat – nog voordat die nuwe kerkgebou voltooi is. Nadat Faure se gesondheid verbeter het, het hy sy roeping as predikant in Neder­land voortgesit tot met sy dood.

Vir verdere lees: HB Thom 1949. Die Gelof­tekerk en ander studies oor die Groot Trek. Kaapstad: Nasionale Pers.

Sidebar