FAURE, PHILIP EDUARD

FAURE, PHILIP EDUARD (1811–1882) vertrek in 1828 na Utrecht, Nederland, vir teologiese studie. In Desember 1834 word hy die eerste predikant van Wynberg, Kaapstad, waar hy tot sy dood arbei. In 1847 word hy vir die eerste keer moderator*; hy tree ook herhaaldelik op as assessor (ondervoorsitter).

In opdrag van die NG Kerk*, besoek Faure en dr W Robertson* in 1848 die Voor­trekkers* in die Transgariep om hulle gees­telik te versterk. Gemeentes* word op Smith­field en in Bloemfontein gestig.

Hy tree van 1850 tot met sy dood op as redakteur van die jaarlikse Kerkalmanak (die latere Jaarboek). In 1859 is hy ook een van die stigterslede van die Teologiese Kweekskool*, Stellenbosch. Vanweë sy knapheid, veelsydigheid en sakevernuf beklee hy verantwoordelike ampte binne die leierskap van die kerk, onder meer as lid van die eerste sen­dingkommissie in 1847.

Binne gemeentegrense beywer hy hom vir die geestelike bearbeiding en onderwys van die bruinbevolking wat lei tot die vestiging van ’n selfstandige sending*gemeente, terwyl sy ywer vir die onderwys in die algemeen kulmineer in die stigting van ver­skeie skole. Van sy preke, toesprake en ge­skrifte tydens sy bediening wat oor 48 jaar strek, word ook gepubliseer.

Vir verdere lees: WJ de Kock 1968. Suid-Afrikaanse biografiese woordeboek, deel 1. Pretoria: RGN. Jaarboek van die NG Kerk (Die Almanak), 1929.

Sidebar