FEESTE IN DIE NUWE TESTAMENT*.

FEESTE IN DIE NUWE TESTAMENT*. Die feeste in die Nuwe Testament is hoofsaaklik Joodse* feeste wat in die Ou Testament* en ook in hedendaagse Judaïs­me* ’n belangrike rol speel.

Vir die Christelike* tradisie is die Pasga* (pesach) belangrik. Deur die eet van die Pasgamaal* (Mark 14:1) word die bevryding uit Egipte* herdenk. Gedurende hierdie feesmaal stel Jesus* die Nagmaal in: soos God Israel* deur die uittog uit Egipte van slawerny* verlos, verlos Hy sy volgelinge deur Jesus se dood* en opstanding* van son­de* en dood*. Die Pasga is, saam met sja­vuot en sukkot, een van drie pelgrimfeeste waarvoor Jode*, as dit moontlik was, na Jerusalem* gereis het. Die Johannes*-Evan­gelie verwys vier keer (4:45; 5:1; 6:4; 12:1) na Jesus wat die Pasga in Jerusalem gevier het. Die Christelike Paasfees val ongeveer op dieselfde tyd as die Joodse Pasga.

Vyftig dae ná Pasga volg Pinkster* (He­breeus*: sjavuot), tradisioneel ’n dankseggingsfees vir die oes (Eks 23:16; 34:22). Dit word in Grieks* pentekosté (= 50) genoem, want Pinkster volg 50 dae (7 weke plus een dag) ná Pasga. Dis betekenisvol dat die Heilige Gees* juis op dié dag uitgestort is. Die Gees samel die “vrugte” van die evangelie*verkondiging in en bring geestelike vrugte in gelowiges* voort. Die Christelike Pinksterfees* val ongeveer op dieselfde tyd as die Joodse sjavuot.

Die jaarlikse Joodse feesseisoen begin met die Nuwejaarsfees, rosj hasjana, op 7 Tisjri (September/Oktober). Rosj hasjana word nie in die Nuwe Testament vermeld nie, maar die blaas van die rams­horing op die fees, om Israel tot inkeer te roep, is ’n motief wat telkens aangetref word (Matt 24:29-31; 1 Tess 4:16). Tien dae ná nuwe jaar is die Groot Versoendag*, jôm kippoer, die dag waarop die hoëpriester* in die Allerheiligste* ingegaan het om offers as versoening van Israel se sondes* te bring. Heb 8–10 verwys na die Versoendag in die argument dat Jesus* se soendood die finale offer* was wat alle tempeloffers vervang. Op die Versoendag kon net die hoëpriester in die Allerheiligste ingaan; deur Jesus se offer het gelowiges “vrye toegang tot die heiligdom” (Heb 10:19) van God se teen­woor­digheid.

Vyf dae ná die versoendag volg die Loofhuttefees*, sukkot. Dit herdenk God se sorg oor Israel gedurende die tog deur die woestyn. Sukkot is die meervoud van sukka, hut/skuiling (Lev 23:33-36). Volgens Joh 7:37 het Jesus op “die laaste dag, die groot dag van die Huttefees” uitgeroep: “As iemand dors het, laat hy na My toe kom en drink!” Sy woorde moet verstaan word teen die agtergrond van die gebruik dat ’n priester* seremonieel water uitgooi op hosjana rabba – die sewende feesdag en be­kend as die groot dag van die fees.

Die eerste geslag Christene* het die Joodse feeste gevier, omdat die Messias* gekom het en weer kom. Dit blyk ook uit ander verwysings: Paulus* verwys na die verwydering van suurdeeg en die geslagte Paaslam (1 Kor 5:6) – verwysings wat net sin maak indien Korintiese gemeentes, met Joodse en nie-Joodse gelowiges, die Pasga minstens geken en waarskynlik gevier het. In 1 Kor 16:8 laat Paulus die Korintiërs* weet dat hy “tot Pinkster” in Efese sal bly, waaronder hy die viering van die Joodse sjavuot verstaan.

Vir verdere lees: J Limburg 1987. Judaism: An introduction for Christians. Minneapo­lis: Augsburg. M & Z Glaser 1987. The Fall Feasts of Israel. Chicago: Moody.

 

Sidebar