FEESTE IN DIE OU TESTAMENT*

FEESTE IN DIE OU TESTAMENT*. ’n Vaste siklus van landboufeeste wat op bepaalde tye van die jaar gehou is, was gebruiklik by Israel* se buurvolke. Gelaai met mitiese elemente was die fees-seremonies bedoel om die guns van die gode te verkry en die vrugbaarheid van die land en diere te verseker. Alhoewel die landbou-aspek ook in die drie jaarlikse hooffeeste van Israel voorkom, verteenwoordig die feeste sentrale historiese gebeurtenisse waardeur die identiteit van Israel as volk van God gevorm is. Hier is nie mitologiese (Kyk by: Mitologie) motiewe nie, maar die feeste dien om die heilsdade (Kyk by: Heil) van God te vier en nuwe toewy­ding aan Hom te bring. Daarom moes alle volwasse mans jaarliks die Pasga, Fees van die Weke en Huttefees bywoon (Deut 16:16).

Die Pasga*, ook genoem die Fees van Ongesuurde Brode, was die hooffees waardeur die verlossing van Israel uit sla­werny in Egipte* gevier is. Dit het saam­geval met die begin van die garsoes, vandaar die gebruik om van al die ou suurdeeg ontslae te raak. Die simboliek hiervan is om met die ou lewe te breek en tot ’n nuwe toewyding te kom.

Die Fees van die Weke of Oesfees is sewe weke (50 dae – 50 in Grieks* is pentekosté – vandaar die benaming “pentecost” of Pinkster*) ná die Pasga gevier. Die begin van die oestyd is ingelui met die offer van die eerste gerf (“beweegoffer”) op die dag ná die Pasga. Die Oesfees is dus aan die einde van die graanoes-seisoen gehou. Lev 23:15-21 beskryf die seremonie waar van die varsgeoeste graan en van die voorafgaande jaar se vee-aanwas (jaaroud-diere) as offers gebring is om God te dank vir sy voorsiening van lewensmiddele. Omdat die datum van die 15de van die derde maand ná die uittog met Israel se aankoms by Sinai* saamval (Eks 19:1), is die wetgewing en verbondsluiting by Sinai tydens die fees herdenk.

Die Huttefees (Hebreeus* sukkôth, wat hutte beteken) of Loofhuttefees (loof is die blare waarmee die hutte gemaak is) is in die middel van die sewende maand aan die einde van die vrugteseisoen in die vroeë herfs gevier en is dus ook die Fees van die Insameling genoem (Eks 34:22). Vir sewe dae moes die feesgangers in tydelike hutte, verkieslik van palmtakke gemaak, bly en feesvier (Lev 23:13-43). Hiermee is Israel se verblyf in tydelike strukture gedurende die woestyntog herdenk. Gevolglik is daar nie van diere-offers by die fees sprake nie. Van al die feeste word in die Ou Testament die meeste na die Huttefees verwys, wat soms eenvoudig “die Fees” genoem word. In later tye het die uitgiet van water om die woestyntyd te simboliseer en die aansteek van lampe in die tempel*, deel van die fees geword. Jesus* se uitsprake in Joh 7:37-38 en 8:12 is moontlik juis tydens hierdie fees gemaak.

Naas hierdie drie groot sg “pel­grimsfeeste” was daar ’n aantal ander feeste.

Die Sabbat* as weeklikse rusdag waar ’n “gewyde byeenkoms” gehou moes word, word in Lev 23 in die lys van feesdae opgeneem. Telkens word gemeld dat bg feeste soos ’n Sabbat deurgebring moes word, met die aksent dat geen werk gedoen mag word nie.

Verdere feeste in kronologiese orde, soos dit ook nog vandag deur Jode* gevier word, word in Lev 23:23-25 genoem. Die rusdag op die eerste dag van die sewende maand (tisjri), wat met die blaas van ramshorings aangekondig moes word, val saam met die later Joodse nuwe jaar, vandag bekend as die rosj hasjana. Alhoewel die opskrif van Num 29 in die 1983-vertaling dit Nuwe­jaars­fees noem, meen baie geleerdes (b­v De Vaux) dat daar nie ’n nuwejaarsfees in die Ou Testament bestaan het nie. In beide genoemde tekste word dit uitdruklik gestel as die sewende maand, en dus nie die begin van die jaar nie: die jaar begin immers in die lente, wat saamval met die uittog uit Egipte*. Daar is geleerdes wat argumenteer dat daar ’n sg “Troonbestygingsfees van Jahwe*” bestaan het, wat met nuwejaarsvierings saamgeval het. Analogieë by naburige volke vorm die basis van dié teorie. Die plasing van die ark* in die tempel* (1 Kon 8), die sg Troonbestygingspsalms (soos Ps 24; 47), en die motief van die dag van die Here* word teen die agtergrond van so ’n fees verstaan. Afgesien daarvan dat geen aandui­ding van so ’n fees in die teksverbande van hierdie genoemde motiewe bestaan nie, is daar ook geen ander gegewens, ook historiese gegewens, wat die teorie ondersteun nie.

Op die tiende dag van die sewende maand is die Groot Versoendag* (jôm kippur) gevier. Daarna, tussen die 15de en 22ste van die sewende maand, is die Loofhuttefees gehou. Dwarsdeur die Ou Testament en selfs in die Nuwe Testament* (Kol 2:16) is daar verwysings na die nuwe maan, dikwels saam met Sabbat genoem. Volgens Num 28:11-15 moes die eerste dag van die maanmaand soos ’n Sabbat deurgebring word en moes besondere offers gebring word. (Kyk by: Kalenders). Dalk is die Nuwemaanfees van die sewende maand (sien hierbo) belangriker as die ander geag. Volgens 1 Sam 20 is dit veral in familieverband gevier.

Die instelling van die Purimfees* word in Ester 9:20-32 beskryf. Hierdie uitbundige fees het ontstaan na aanleiding van die Jode se wonderbaarlike verlossing van uitwissing deur die Persiese komplot onder leiding van Haman*, soos dit in die boek Ester* vertel word.

Die Hanukka*, as Fees van die Tempelwyding, het na aanleiding van gebeurte­nis­se in die tussen-testamentêre tyd ontstaan. Dit is ook bekend as die Fees van die Ligte.

Uit die voorafgaande is dit duidelik dat al die feeste nie dwarsdeur die hele Ou-Testamentiese tyd bestaan het nie. Daar het ontwikkelings en aksentverskuiwings oor die tyd en in verskillende sektore van die samelewing voorgekom. So is daar in die Pasga twee aksente, wat reeds uit die komposisie van Eks 12 blyk. Die aksent op die offerlam kom waarskynlik uit die meer nomadiese veeteelttradisie en is in seremonies by die tempel versterk. Die onge­suurde brode kom weer uit die landelike saaigemeenskappe. Daarbenewens was die Pasga aanvanklik méér ’n familiefees; in die koningstyd is dit meer om die tempel gesentraliseer, maar het later weer ’n meer huishoudelike fees geword.

Vir verdere lees: R de Vaux 1974. Ancient Israel – Its Life and Institutions. New York: McGraw Hill.

Sidebar