FEMINISME

FEMINISME. Moderne feminisme is ’n beweging wat in die 1970’s wêreldwyd onder vroue* begin het om mekaar te be­magtig.

Feminisme beweer dat vroue vry sal wees wanneer hulle gelykheid op vier gebiede sou hê: 1. gelyke sosiale mag om hulleself te definieer, stereotipes oor vroue te ondermyn, en verhoudings van hulle keuse aan te knoop; 2. gelyke ekonomiese mag om hulleself te onderhou; en 3. gelyke politieke mag om wetgewing en die openbare mening genoegsaam te beïnvloed sodat vroue vry en veilig kan wees. Godsdienstige feminisme het ’n vierde terrein geïdentifiseer waarop vroue tot vryheid moet kom: 4. gelyke ekklesiastiese mag om ten volle deel te word van die spirituele lewe van die geloofsgemeenskap, dit is, in sy liturgieë*, konfessies (belydenisskrifte*) en kerkordes*.

Die radikale feminisme van die 1970’s, ook bekend as Feministiese Standpunt-Teorie (FST), het teoreties op drie bene ge­staan: 1. Essensialisme: FST beweer dat vroue in essensie tot dieselfde dinge in staat is wat mans altyd beweer het eie aan húlle is; 2. Epistemologiese voorreg: FST beweer dat net vroue in staat is om die werk van vroue te verstaan en te interpreteer, en dat mans daarom nie by vrouesake en vrouegeskie­denis betrokke mag raak nie; 3. Die liggaam as ’n terrein van weerstand: FST sien vroue se liggame as die terrein waar hulle die meeste onder die arrogansie en misplaaste mag van die patriargaat (Kyk by: Patriargale stelsel) ly, en daarom moet vroue se liggaam* die terrein word waar vroue weerstand bied.

Postmoderne* feminisme is baie meer inklusief en nooi mans uit om deel te vorm van die gesprek oor geslagtelike gelykheid. Vroue-teoloë raak ook betrokke by die bestudering van “manlikhede” soos dit in die Bybel* en die kerklike tradisie na vore kom. ’n Belangrike ontwikkeling in vroue-teologieë is “liggaamsteologie” wat die liggaam sien, nie as ’n “terrein vir weerstand” nie, maar as ’n “terrein van verhouding” waar mans en vroue gelyke en deursigtige verhoudings aanknoop. “Liggaamsteologie” beweer dat elke mens ten minste vier liggame het: 1. ’n fisieke liggaam waarmee fisieke verhoudings aangeknoop word, 2. ’n simboliese liggaam waarmee waardes, soos manlikheid en vroulikheid, gesimboliseer word, 3. ’n politieke liggaam waarmee mense beheer oor mekaar se seksualiteit* uitoefen, ten goede of ten kwade, en 4. ’n spiri­tuele (Kyk by: Spiritualiteit)  liggaam waarmee mense bo hulle liggame uitstyg (die “spirituele liggaam” vervang die onderskeid wat altyd ge­maak is tussen siel* en liggaam).

Die belangrikste verteenwoordiger van vroue-teologie in Afrika is Mercy Amba Oduyoye van Ghana, wat ook in 1989 die invloedryke Sirkel van Afrika Vroue-teoloë gestig het. Verteenwoordigers van feministiese teologie in Suid-Afrika is Denise Ackermann* en Madipoane Masenya. Binne die Afrikaanse gereformeerde* tradisie word vroue-teologie beoefen deur Yolanda Dreyer* en Christina Landman*. (Kyk ook: Seksisme.)

Sidebar