FEMINISTIESE ETIEK

FEMINISTIESE ETIEK, soos alle etiek, fokus op geregtigheid* (justice). Ongereg­tig­heid* heers waar daar nie ’n magsbalans is nie en vryheid en gelykheid ontbreek. “Feministies” dui daarop dat die hoofklem val op ongeregtigheid teenoor vroue*. Feministiese etiek gaan egter nie net oor vrouebelange nie. Dit het geregtigheid vir alle mense en groepe in die oog.

Reformatoriese (Kyk by: Hervorming) teologie* sal in die algemeen die gebrek aan geregtigheid in die wêreld toeskryf aan die sonde*. ’n Argu­ment kan dan wees: sonde sal nooit ver­dwyn nie en daarom sal daar altyd ongereg­­tigheid in die wêreld wees. Feministiese etiek het ’n meer positiewe standpunt oor mens-wees. Die mens is ’n morele wese en daarom kan van ’n mens verwag word om moreel (Kyk by: Moraal) op te tree. Mense is in staat om hulle foute te erken en ten goede te verander. As die samelewing insien dat sommige mense vryheid en gelykheid ontneem word, omdat ’n ander groep mag oor hulle uitoefen, moet daardie onreg uit die weg geruim word. ’n Regverdige samelewingsbestel behoort vir alle mense geskep te word. Die redenasie dat sonde ’n regverdige bestel onmoontlik maak, is volgens die feministiese etiek ’n ontduiking van die ver­antwoordelikheid om iets te dóén om geregtigheid tot stand te bring.

Die begrip “geregtigheid” in die Ou Testament* word gebruik in ’n konteks waar daar nie reg geskied aan die sogenaamde “swakkes” van die samelewing, soos die armes, kreupeles, blindes, melaatses nie. Vanweë die patriargale (Kyk by: Patriargale stelsel) kultuur* van die Bybel* val vroue en kinders wat nie onder die beskerming van ’n man is nie (weduwees en wese), onder daardie groep. Dit is ’n natuurlike neiging van mense om ander uit te sluit. Volgens die Ou Testament wil God dit nie so hê nie. Israel* word opgeroep om te sorg vir die swakkes. Dít is die “geregtigheid van God”.

Die kern van die probleem in die hedendaagse etiek is dat groepe of geslagte vanweë die dominansie van ander groepe of geslagte uitgesluit word. Vroue is vandag steeds dwarsoor die wêreld uitgesluit, of baie swak verteenwoordig, in instansies wat te doen het met mag of beleidmaking, kerk*leierskap ingesluit. Grondwette het lank reeds probeer om die verontregting van vroue uit te skakel. Daarmee is egter nog nie oral sukses behaal nie. Die Grond­wet van Suid-Afrika is vandag een van die mees progressiewes wat betref ruimte, voorregte en geleenthede vir die “swakkes” (dié wat nie tot dominante groepe behoort nie).

 

Sidebar