FENOMENOLOGIE

FENOMENOLOGIE is afgelei van die Griekse* woorde phainomenon (verskynsel) en logos (woord, leer) en verwys na die 20ste-eeuse Europese filosofiese beweging wat uit die werk van die Duitse filosoof Edmund Husserl (1859–1938) kom. Drie tipes van fenomenologiese denke kan onderskei word: psigologiese fenomenologie, transendentale fenomenologie en eksistensiële fenomenologie. Gekenmerk deur die Duitse leuse Zu den Sachen selbst (na die saak self) en ’n verstaan van die menslike bewussyn as intensioneel, fokus psigologiese fenomenologie op die nou­keurige beskrywing van ons ervarings self (ervaring as verskynsel), terwyl die vraag na die kousale oorsprong of ontwikkeling van die ervaring voorlopig eers opgeskort word. Hierdie beskrywing(s) is geen alternatief vir die verklaring van die ervaring(s) nie, maar dien tot voorbereiding van die verklaring. Hierdeur kan vermy word dat die ervaring herlei word tot die veronderstelde ver­klarende oorsake. Die beskrywings het as oogmerk die blootlê van die wesensaard van die ervaring.

Ná 1908 neem Husserl se denke ’n idea­listiese wending sodat van transendentale fe­no­menologie gepraat kan word. In tran­sen­dentale fenomenologie is die bewussyn nie meer ’n deel van die werklikheid wat in ’n materiële liggaam gefundeer is nie, maar die allesomvattende oorsprong van die werk­likheid. Teenoor psigologiese fenomenologie wat slegs ’n deel van die werklik­heid beskryf het, te wete die psige, en die res buite berekening gelaat het, streef transendentale fenomenologie na ’n tota­liteitsvisie van die werklikheid waarin elke vorm van dualisme* tussen die bewussyn en ’n wêreld wat daarvan onafhanklik is, oorwin word.

Met die verskyning van Heidegger* se Sein und Zeit (1928) kom daar ’n nuwe fenomenologiese wending deurdat hy menslike eksistensie in die sentrum van feno­menologiese denke plaas en ’n nuwe totaliteitsvisie ontwerp. Hierdie ontwerp, nou bekend as eksistensiële fenomenologie, is nie meer idealisties nie, maar neem as uitgangspunt die konkrete bestaan van die mens as “in-die-wêreld-wees”. Die mens is nie die oorsprong van die werklikheid nie, maar in sy/haar bestaan “geworpe”. Sy/haar eksistensie word voltrek as ’n voortdurende transendering van hierdie gegewe (faktisiteit). Teenoor die wetenskaplike mens­beskouing waarin die mens tot objek of ding gereduseer word, en die mens se eksistensiële vryheid misgekyk word, dien eksistensiële fenomenologie as fundamen­tele kritiek op hierdie mensbeskouing, as­ook op bepaalde ontologiese voorveronde­r­stellings.

Sidebar