FENSHAM, FRANK CHARLES

FENSHAM, FRANK CHARLES (1925–1989) behaal ’n MA en DD aan die Univer­siteit van Pretoria waarna hy ’n PhD in Semitiese Tale aan die John Hopkins-Universiteit (Baltimore, VSA) onder leiding van William Albright verwerf. In 1950 word Fensham as lektor in Semitiese* tale aan die Universiteit van Stellenbosch aangestel, waar hy van 1962 tot 1985 as professor diens doen. Op nasionale vlak was hy voorsitter van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns en van die Afrikaanse Skrywerskring.

Met die publikasie van 31 boeke, 180 artikels en 245 bydraes tot ensiklopedieë, het Fensham internasionaal as kenner van Semitiese tale en die Ou Testament* be­kend geword. Onder die talle akademiese erkennings wat hy ontvang het, kan die Totiusprys* vir sy bydrae tot die Bybelwetenskappe en die eredoktorsgraad van die Universiteit van die Vrystaat genoem word.

Fensham se navorsing het veral gefokus op vergelykende studies van die Kanaän­i­tiese en Israelitiese kulture, met besondere aandag vir die rol wat antieke verdrae in die Ou Nabye Ooste en die verbond* in die Ou Testament gespeel het. Hy het ook be­langrike kommentare op Eksodus* (Ne­der­lands), Esra* en Nehemia* (Engels), asook Hebreërs* (Afrikaans) geskryf.

Te midde van al sy akademiese verplig­tings, was Fensham ook predikant in die Rynse Gemeente op Stellenbosch en het hy as konsertinaspeler en bariton ywerig meegedoen aan die Bosorkes wat op tradisionele Boeremusiek gekonsentreer het.

 

Sidebar