FERGUSON, ABBIE PARK

FERGUSON, ABBIE PARK (1837–1919) is ’n Skotse pastoriedogter van Whateley, Massachusetts, waar haar pa predikant van die Kongregasionalistiese Kerk* was. Haar ma het uit ’n puriteinse* huis gekom. In 1865 behaal sy haar onderwysgraad by die Mount Holyoke-seminarie, VSA. Sy gee onderwys in New Haven, maar haar hart lê by die sending* – veral onder die minderbevoorregtes. Ná twee jaar sit sy haar studie in Europa voort waar sy haar MA behaal. Terug in New Haven begin sy ’n projek saam met die Metodistekerk* vir straatkinders. Op ’n dag gaan kuier sy by haar alma mater – juis toe ’n brief van Andrew Murray* daar aankom waarin hy ’n onderwyseres soek vir ’n inrigting vir meisies geskoei op die lees van die Mount Holyoke-seminarie. Aan die einde van 1873 kom sy in Suid-Afrika aan en die Hugenote-seminarium*, ’n opleidingsplek vir dogters, open op 19 Januarie 1874 op Wellington. Sy was 37 jaar aan dié inrigting verbonde, waarvan die laaste 11 jaar as rektor. Sy het hierdie breinkind van Murray uitgebou tot ’n opleidingsplek wat die rol van die vrou* in die kerk* en gemeenskap beduidend verander het. Sy is deur haar alma mater met ’n eredoktorsgraad, DLitt, vereer.

Vir verdere lees: GP Ferguson 1927. The Builders of Huguenot: Being the History of the Huguenot Institution at Wellington, from the Intimate Papers of the Builders. Kaapstad: Maskew Miller.

Sidebar