FESTER, GERTRUDE

FESTER, GERTRUDE (1952–) was in 1988 twee en ’n half maande in eensame aanhouding kragtens die destydse Artikel 29 en saam met dertien ander eers aange­kla vir hoogverraad, daarna vir terrorisme, maar nooit skuldig bevind nie. Sy het ’n BA van die Universiteit van Kaapstad met Drama en Frans as hoofvakke; ’n graad in opvoedkunde van Unisa; ’n MA in Ontwik­kelingstudie van die Instituut voor Sociale Studie, Den Haag, en ’n doktorsgraad van die London School of Economics oor die rol van vroue in die struggle, 1980–1990. Sy het ’n termyn gedien as kommissaris van die staat se Kommissie vir Geslagsgelykheid en is sedert 2016 professor aan die Sol Plaatje universiteit, Kimberley. Sy was ook in ’n stadium voorsitter van die NG Kerkraad van St Stephen’s*-gemeente in Kaapstad. Sy sê in ’n onderhoud: “In die 1980’s was daar ’n dowwe tyd. Toe ek teruggekom het van Nederland, het ek ’n ruk lank nie kerk toe gegaan nie. Ek moes ’n hele klomp dinge eers vir myself uitmaak. En die NG Kerk* se ondersteuning van die apartheidsbeleid* was natuurlik vir my ’n groot probleem. Maar St Stephen’s is iets anders. My pa was 47 jaar lank prinsipaal van die kerkskool wat deel van St Stephen’s was. Ons familie is diep verbonde aan dié ‘gemeente van vrygemaakte slawe’. Eers ’n teater, daarna ’n plek waar allerlei slegte dinge gebeur het … en toe, nou al meer as 160 jaar lank, ’n kerk! Die vrygemaakte slawe het hier met ’n gemeente begin, later was dit Distrik Ses se kerk. St Stephen’s se wortels lê baie diep in die Kaap. En deur al die jare het dit deel van die NG Kerk gebly. My lewe en my mense s’n is ten nouste verweef aan dié van St Stephen’s.” Oor die tyd van eensame aanhouding, sê sy: “Dit kan ’n mens breek. Jy word dag en nag dopgehou, jy is nooit alleen nie … en tog is jy verskriklik alleen. Geen privaatheid nie, maar ’n onmenslike eensaamheid. Dáár het ek gevoel hoe dit is om van mense verlate te wees – en ook van God, het ek gedink… In daardie tyd het ek aan­houdend aan Chris­tus* probeer dink, en sy lyding. Dit het my deurgehelp. En as Christen kon ek ook nie bitter bly oor wat met my gebeur het nie. My lyding was ’n sandkorrel as dit met Christus s’n ver­gelyk word!”

 

Sidebar