FESTUS, PORSIUS

FESTUS, PORSIUS was Romeinse prokurator (Kyk by: Romeinse Ryk) van Judea, 59/60–62 nC. Anders as sy voorganger, Feliks*, was hy ’n eerbare regeerder. Hy sien dit as sy groot taak om Palestina* skoon te maak van rowers en opstandelinge.

Festus erf Paulus* se regsaak van Feliks (Hand 25–26). Kort ná sy diensaanvaarding reis Festus van Sesarea* na Jerusalem*. Die Jode* versoek dat Paulus in Jerusalem verhoor word, want hulle wou hom op pad van Sesarea na Jerusalem vermoor. Festus weier, maar stel tog later aan Paulus die Jode se versoek, omdat hy hulle ’n guns wou bewys.

In Sesarea stel Paulus later sy saak voor Festus en Herodes* Agrippa II. Beide kom tot die slotsom dat Paulus onskuldig is en vrygelaat kon word as hy hom nie as Romeinse burger op die keiser* beroep het nie.

Festus het in die amp van prokurator gesterf.

Sidebar