FEUERBACH, LUDWIG

FEUERBACH, LUDWIG (1804–1872). Hierdie Duitse wysgeer onderskei drie hoofpunte in sy leer: 1. Die materialisme. Self het hy liewer van organisme gepraat: die mens word as organiese wese gesien. 2. Die herleiding van teologie tot antropologie: ewe min as wat ’n mens nog agter die liggaamlike mens ’n ekstra siel moet soek, ewe min moet jy agter die natuur ’n onstoflike godheid soek. God bestaan nie, dit is is ’n projeksie van mens-wees. 3. Die ek-jy-verhouding. Waarheid moet vlees en bloed word in ’n “ek” en ’n “jy”. Egte, konkrete denke is nooit selfgenoegsaam nie, daarvoor is die medemens nodig.

In sy proefskrif uit die jaar 1828 (oor die rede, eenheid, universaliteit en oneindigheid) bly Feuerbach nog steeds getrou aan die pan-logisme van Hegel*. “Voleinding en volkomenheid kan slegs die universele, die geheel en die absolute wees.” Volgens hom is die subjektief-partikuliere bloot “gebrek­kig, negatief, eindig”. Die wese van die natuur is gegee in die gees wat buite en bo dit staan – en saam met Hegel hou Feuer­bach aan die identiteit van denke en syn vas.

Waar hy Hegel in 1839 nog verdedig het, sou hy spoedig oor die “Wese van die Chris­tendom” (1840) in radikale opposisie tot Hegel skryf.

Feuerbach misken nou God en gods­geloof – hoogstens staan die mens in relasie tot ’n self-geprojekteerde godsidee en derhalwe in relasie tot sigself. God is oorbodig en ongewens en ondermyn die menslik­heid van die mens. Godsdiens vervreem die mens van sigself en ontwortel die mens. Slegs wanneer godsgeloof vernietig is, kan mens en natuur na waarheid verstaan en waardeer word. Gods-liefde moet vervang word deur mens-liefde. Feuerbach beklemtoon medemenslikheid en plaas denke en filosofering binne die konkreet-liggaamlike, sintuiglike bestaan van die mens.

DFM Strauss

Sidebar