FILEMON (BYBELBOEK)

FILEMON (BYBELBOEK). Dié brief* is tydens Paulus* se gevangenskap in Efese* (54–56 nC) óf in Rome* (60–62 nC) geskryf, waar interaksie met Onesimus* en die skryf van ’n brief aan Filemon moontlik was. Geleerdes meen dat Efese waarskynlik die beste keuse is, omdat dit die naaste stad aan Onesimus en Filemon se huis was, en die beste sin maak van Paulus se versoek om gasvryheid* (Filem 22). Die ouer teorie dat Sesarea* (Hand 24:26-27) die plek van oorsprong sou kon wees, lyk onwaarskynlik. As Paulus se kortste brief bekend, bied Filemon nietemin ’n interessante kykie op die lewe en onderlinge verhoudings van vroeë Christelike groepe. Hierdie persoonlike brief voldoen volledig aan die literêre konvensies van die dag, en handel oor die verhouding tussen Filemon, Onesimus en Paulus binne gemeentelike konteks (Filem 1-2). Paulus rig ’n appèl tot Filemon oor sy slaaf Onesimus (Filem 10) wat net soos Filemon (Filem 19) deur Paulus se toedoen gelowig* geword het. Paulus se beklemto­ning daarvan dat beide Filemon en Onesimus deur Paulus gelowig geword het, dat Onesimus as “broer” teruggestuur word (Filem 16) en dat Paulus met ’n toekomstige besoek (Filem 22) self ondersoek sou kom instel, vereis niks minder nie as Onesimus se vrystelling as slaaf*. Waarskynlik wou Paulus hom as medewerker gebruik (Filem 13).

Sidebar