FILIOQUE-STRYD

FILIOQUE-STRYD. Filioque is ’n Latynse woord wat letterlik beteken: “en van die Seun*”. Dit vorm deel van die dogma* oor die Drie-eenheid* en veral die posisie van die Heilige Gees*. In die geloofsbelydenisse* van Nisea* en Atanasius* word bely dat die Heilige Gees van die Vader* en die Seun uitgaan. Hierdie belydenis is egter veral deur die Grieks-Ortodokse* Kerk van die Ooste konsekwent verwerp. Toe pous Benediktus VIII in 1014 die filioque opneem in die mis*liturgie, was die verwydering tussen die Oosterse en Westerse kerke ’n voldonge feit. In 1054 het die twee kerke uitmekaar geskeur, hoofsaaklik oor die dogma van die filioque. Die Ooste verwerp die filioque: die Heilige Gees gaan nié van die Seun uit nie. Die Weste handhaaf die filioque: die Heilige Gees gaan óók van die Seun uit.

Waarop kom die verskil dan neer? Dit gaan oor die eenheid van die Gees en Christus*, en daarom ook die eenheid van Gees en Woord* (Christus). Die vraag is of die Heilige Gees regstreeks, sonder die Middelaar*, tot die mens spreek en dus ook sonder die Woord van die Middelaar. In die Oosterse kerk het die lewende verkondiging van die Woord grootliks verdwyn.

 

Sidebar