FILIPPENSE (BYBELBOEK)

FILIPPENSE (BYBELBOEK) is een van Paulus* se “vriendelikste” briewe wat hy uit die gevangenis geskryf het. Sommige noem Filippense ’n “teologie* van dankbaar­heid*”. Filippi is in ongeveer 360 vC deur Filippus II van Masedonië* (pa van Aleksander* die Grote) gebou en was geleë in ’n vrugbare gebied met baie fonteine en goud, ongeveer 12 kilometer van die see af. Dit was later op die hoofroete tussen Rome* en die Ooste. Hier het Paulus sy eerste gemeente* in antieke Griekeland* ge­plant (Hand 16:11-40).

Die eerste bekeerling was Lidia*, ’n welgestelde vrou*, in wie se huis die Chris­tene* bymekaar gekom het (Hand 16:14-15). ’n Wonderwerk* in die tronk laat die tronkbewaarder en sy hele gesin tot geloof* kom (Hand 16:29-34). Ander gemeentelede is Epafroditos* (Fil 2:25), Euodia*, Sintige en Klemens (Fil 4:2,3). Dit dui op ’n gemengde gemeenskap wat hoofsaaklik uit nie-Joodse* gelowiges bestaan het.

Die Christuslied (Fil 2:6-11) is een van die oudste liedere wat ons uit die vroeë Christendom ken. Dit is deel van die brief se vermanende gedeelte (1:27–2:18) en word dikwels met Jesus* se voetwassing in Joh 13 vergelyk. Jesus se voortydse bestaan (2:6), sy menswording* (2:7), sy vernedering en dood* (2:8) en sy triomferende verhoging (2:9-11), word besing. Omdat Christus* die Here* Homself weggegee het vir mense, gee die kerk* sigself prys ter wille van die evangelie*. Paulus speel doelbewus met die woord “gesindheid” (2:2, 5; 3:15; 4:2). Die op­roep tot eensgesindheid (4:2) roep onmiddellik die woord “gesindheid” van 2:5 op, naamlik dat Christus se optrede en voorbeeld die motiverende beginsel vir een­heid* behoort te wees. Daarom is verdeeldheid, kla of teëpraat onaanvaarbaar (2:14; 4:2).

Die tema van “op-weg-wees” is opvallend. Die gemeente beskik nog nie oor al die regte insigte nie (1:6, 9-11; 2:12-13; 3:15). Op die dag dat Christus kom, sal hulle in ’n regte verhouding met God wees (1:11). Paulus is Christus se eiendom (3:12), maar soos ’n atleet is hy op weg om die hemelse prys te behaal waartoe hy geroep is (3:13-14). Hulle is “op-weg” en het nog nie “gearriveer” nie – soos die dwaalleraars (Kyk by: Dwaalleer) verkon­dig het (3:2, 18). Geestelike volwassenheid is om dít te verstaan (3:15).

Dieselfde gedagte word voortgesit in die “burgerskap”-tema (3:20). Die Christene kon hulle eie grond besit, verkoop en ander grond aankoop. Hulle grondbesit het hulle meer “wêreldbewoners” gemaak as “bur­gers van die hemel” (3:20). Paulus sê dat hulle soos evangelieburgers moet optree (politeuesthe) (1:27). Nie Rome* nie, maar God se kragtige veranderende werk is hulle redding (3:20-21).

“Blydskap” is ’n kernwoord in die brief (Fil 1:4; 2:2; 4:4). Paulus bely dat die Here naby is (4:5). Dit kan na twee kante toe verstaan word. Die Here is naby hulle in hulle nood, daarom kan hulle al hulle sorge aan sy voete kom lê. Hy sal vrede* gee (Fil 4:4-7). Die Here is ook naby in die sin dat Hy gou weer sal kom. Immers, dit is wat Paulus en die lesers kan verwag. Daarom kan hulle bly wees! Hierdie blydskap is gegrond in die vaste wete dat die Here oor alle magte* hulle Here is.

Sidebar