FILIPPUS

FILIPPUS. Die Bybel* maak melding van drie persone met hierdie naam:

  1. –Herodes*1 die Grote en sy Joodse* vrou Kleopatra se seun. Herodes (oorlede 4 vC) het in sy testament die gebiede wat sy ryk oos van die Jordaan* omvat het, aan Filippus bemaak, naamlik Gaulanitis (Golan-Hoogland), Auranitis, Tragonitis en Batanea. Hy het ook oor Iturea (tussen die Lebanon- en Antilebanonberge) ge­heers (Luk 3:1). Hy was getroud met Salome*, die dogter van Herodias* (Mark 6:17 is hier foutief). Hy stig in 2 nC by die oog van die Jordaan* die stad Sesarea-Filippi* (vgl Mark 8:27) as sy rege­ringsetel. Hy is in 34 nC oorlede.
  2. ‑Een van Jesus* se dissipels* was ’n sekere Filippus uit Betsaida (Joh 1:44; 12:21), waarskynlik ’n volgeling van Johannes die Doper*. In die dissipellyste (Mark 3:18 en volgende verse; Hand 1:13) word hy ná die twee broerpare genoem, waaruit sy gesag in die vroeë Christen­dom* blyk, so ook die rol wat hy in die Johannes*-Evangelie speel, waar hoofsaaklik Filip­pus-oorlewering voorkom (Joh 1:43-48; 6:5-7; 12:21-22; 14:8-9). Onder sy naam was ’n gnostiese* Evangelie in omloop; in die 4de/5de eeu ontstaan die sg Handelinge van Filippus (’n apokriewe* geskrif), waarin hy met Filippus*3 die diaken* tot een persoon versmelt.
  3. ‑Die derde Filippus was een van die sewe leiers van die Griekssprekende Chris­te­ne* in Jerusalem* (deur Lukas* in Hand 6:1-7 “diakens” genoem); sy by­naam was “die Evangelis” (Hand 21:8). Hy het waarskynlik ’n sleutelrol in die vroeë uitbreiding van die evangelie* in Sama­ria* gespeel (Hand 8:4-26). In die 4de/5de eeu ontstaan die sg Hande­linge van Filippus (’n apokriewe geskrif), waarin hy met Filippus*2 die Jesus-dissipel*, tot een persoon versmelt.

 

Sidebar