FILISTYNE

FILISTYNE was deel van die sogenaamde Seevolke wat gedurende die 12de eeu vC uit die Egeïese Seegebied na Palestina* getrek het. Hulle het hulle gevestig aan die Mid­del­landse Seekus. In die Ou Testament* word Kretense (inwoners van Kreta*) met die Filistyne geassosieer (Eseg 25:15-16; Sef 2:4-5). In Jer 47:4 en Amos 9:7 word die Fili­styne geassosieer met Kaftor, wat ook geïdentifiseer kan word met Kreta en sy omge­wing.

Tot ongeveer die 10de eeu vC was die Filis­tyne magtig en het hulle dikwels oor hulle naaste bure, die Israeliete (Kyk by: Israel *1,2,3,4,5,6), die oorhand gehad. Baie van hierdie botsings word beskryf in die boeke Rigters* en Samuel*. Ons weet min van die Filistyne se sosiale strukture. Om ’n idee te kry van hulle politieke struktuur, moet ons staat maak op die Bybel*se getuienisse. Volgens 1 Sam 5:8 is die heerser van elk van die stede ’n seren ge­noem (geassosieer met die Griekse begrip turannos, “tiran/heerser”). Hulle heersers word in Genesis* “konings” genoem en in Dawid* se tyd word na Agis* verwys as die “ko­ning” van Gat* (1 Sam 21:10, 12). Ander tekste vertel van hulle militêre organisasie, met verwysing na strydwaens, perderuiters en manskappe (1 Sam 13:5). Die Filistyne was tegnologies baie gevorderd vir hulle tyd. Dit kan afgelei word uit die kleurryke beskrywing van Goliat* se oorlogsmonde­ring wat duidelik daarop dui dat hulle meesters was in die verwerking van yster: “Daar was ’n bronshelm op sy kop, hy het ’n harnas met skubbe aangehad. Die gewig van die harnas was 57 kilogram … Die steel van sy spies was so dik soos die dwarsbalk van ’n weefstoel en die ysterlem daarvan was sewe kilogram” (1 Sam 17:5-7). 1 Sam 13:19-20 wys daarop dat hulle met betrek­king tot ysterverwerking Israel se meer­dere was.

Sidebar