FILMS EN GODSDIENS

FILMS EN GODSDIENS. Toe Holly­wood nog nie stories gehad het om te vertel nie, het Bybel*stories kitsloketsukses beteken – soos 1926 se Ben Hur: A Tale of Christ. Cecil B De Mille het reuse-eposse gemaak waarin die skouspelagtige uitbeelding van Bybelse rampe meer prominent was as die betekenis van godsdiens as sodanig. En alhoewel Bybelse figure dramaties gestalte gekry het in Spartacus, Ben Hur (die 1959-weergawe), Quo Vadis, The Robe, Shoes of the Fisherman, King of Kings en The Ten Commandments, was daar selde ernstige introspeksie. Dit was bloot “stories” as verskoning vir verleidelike me­lo­dramas. Moses*, Simson*, Dawid* en Johannes*2 is uitgebeeld deur Hollywoodse vleispaleise. En alhoewel geen regisseur dit destyds gewaag het om Christus* se gesig te wys nie, het latere rolprente groot gewag van sy verskynings gemaak, soos in Franco Zeffirelli se Jesus of Nazareth.

Godsdiens is gesatiriseer in Monthy Python’s Life of Brian. Kritiek teen die Kato­lieke Kerk* het lank in Hollywood gedomineer, moontlik vanweë die sterk Joodse* invloed in die Amerikaanse rolprentbedryf. Dink in hierdie verband aan Agnes of God en Monsignor.

God is gesatiriseer in Oh, God! terwyl Morgan Freeman ’n toeganklike God uitgebeeld het wat plekke ruil met ’n menslike Jim Carrey in Bruce Almighty. Monty Python’s Life of Brian het Christene* egter aanstoot gegee met sy satiriese uitbeelding van Christus se lewe. Musiekblyspele soos Jesus Christ, Superstar en Godspel is ook verfilm en baie mense het aangevoer dat dié films hulle tot inkeer gebring het omdat dit ’n boodskap van versoening oor­ge­dra het.

Van die bekendste rolprente waarin die verhaal van Jesus* vertel word, is Cecil B DeMille se stilprent King of Kings (1927), Pier Paolo Pasolini se The Gospel According to St Matthew (1964) – dalk die beste en mees respekvolle weergawe van Jesus se lewe nóg – en Feanco Zeffirelli se Jesus of Nazareth (1976). Martin Scorsese se weergawe van Nikos Kazantzakis se The Last Tempta­tion of Christ het in 1988 aandag ge­­trek. Hy het gewys wat kon gebeur het as Christus Hom aan sy menslike swakhede oorgegee het. Toe word Mel Gibson* se waagmoedige en soms oordrewe The Passion of the Christ in 2005 vrygestel. Dit was so gewelddadig-eksplisiet dat dit tot die grootste debat in die pers sedert The Last Temptation aanleiding gegee het. In 2014 is Christopher Spencer se Son of God vrygestel – ’n reeks vinjette rondom die lewe van Christus. In dié fliekweergawe is, anders as by baie ander, Jesus se opstanding* en hemelvaart* deel van die geheel.

Vroeër het die apostels* en ander Bybelfigure ook beurt gekry in Barabbas (1962). In die 1990’s was Regardt van den Berg* die regisseur met die verfilming van die Evangelie van Matteus* en die Boek Handelinge* in ’n grootse Bybel-op-film-projek wat die Suid-Afrikaner Charles Robertson van stapel gestuur het.

Godsdiens wat misbruik word as verskoning vir die mens se wandade, sluit in Frailty, Elmer Gantry en The Mission, asook films oor duiwel-besetenheid soos The Omen, Rosemary’s Baby en The Exorcist. Hier is fanatisisme uitgebeeld met ’n waarskuwing teen die onderskatting van Satan* se slinksheid.

Jesus of Montreal is dalk die mees passievolle en indringende ondersoek na die aard van die mens se verhouding met sy Verlosser. ’n Akteur studeer in die filmverhaal die rol van Christus vir ’n op­voering in, en besef wat godsdiens vir hom beteken. Daar word in die rolprent gesuggereer dat dié man Christus kon wees. Hierdie rolprent het dalk meer vir die Christelike geloof beteken as talle ander Bybeleposse.

Met die aanbreek van die 21ste eeu het enkele waagmoedige Bybelse en godsdienstige prente, soos genoemde The Passion of the Christ en Luther, die soveelste weergawe van Martin Luther* se lewe, die lig gesien. Die buitensporige Noah, wat op die ou end min met die Bybelse verhaal oor Noag te doen het en baie met Hollywood se aanvoeling vir loketverkope, is in 2014 vrygestel. Die Suid-Afrikaner Frans Cronjé se Faith like potatoes het in 2008 die Andrew Murray-Desmond Tutuprys* vir klank-en-beeld-produksies gewen. (Kyk ook: Chris­tus: uitbeelding in die kunste, en: Mema, en ook: Carfo.)

Sidebar