FILOSOFIE, HEGELIAANSE. GWF Hegel*

FILOSOFIE, HEGELIAANSE. GWF Hegel* (1770–1831) is een van die invloed­rykste Duitse denkers van alle tye. Sy versamelde werke beslaan meer as twintig vo­lumes en sy geskrifte is berug daarvoor dat dit buitengewoon moeilik verstaanbaar is, veral vanweë die ondeurdringbaarheid van sy taalgebruik en die uitermate hoë vlak van abstraksie en allesomvattende reikwydte van sy filosofiese visie. Die grondgedagte van hierdie visie het te maak met die kombinasie van twee begrippe: bewussyn en geskiedenis en hulle wedersydse, progres­siewe inwerking op mekaar. Op basis hiervan ontwikkel ’n omvattende filosofiese sisteem waarin bewussyn, of wat hy “Absolute Gees” noem, die agent is wat die werklikheid maak tot wat dit is, onder andere deur ’n voorafvasgestelde, toekomsgerigte proses waardeur teenstellings in die ge­skiedenis stelselmatig opgehef word (’n dialektiese proses genoem) en daar ’n hoër vlak van selfbewussyn en identiteit tussen natuur en kultuur* bereik word. Dit maak hom een van die belangrikste verteenwoor­digers van wat as Idealisme bekend staan. Hegelianisme is die Idealistiese denk­beweging waarin die sentrale begrippe en beskouings van Hegel verder uitgewerk word. ’n Belangrike ontwikkeling uit die Hegelianisme is die rewolusionêre denke van Karl Marx* (1818–1883). Hy sluit by Hegel aan, maar interpreteer die sogenaamde dialektiese proses eerder as ’n materiële proses wat aangedryf word deur ekonomiese faktore en uiteindelik sal uitloop op ’n regverdiger verdeling van arbeid en besit in ’n sosialistiese* staat en ekono­mie. Die filosofieë van Hegel, en tot ’n mindere mate Marx, was pogings om allesver­klarende denksisteme oor die werklikheid in sy totaliteit op te bou. Teen die einde van die 19de eeu verval hierdie soort filosofiese benadering in groot onguns. Twee van die belangrikste filosowe van net voor die aanbreek van die 20ste eeu, te wete Nietzsche* (1844–1900) en Kierkegaard* (1813–1855), ontwikkel skerp, ondermynende kritiek op enige sodanige metafisiese totaliteitsvisies of waarheidsisteme in die filosofie.

 

Sidebar