FIRET, JACOB (JAAP)

FIRET, JACOB (JAAP) (1923–1994), be­gin in 1942 teologie studeer aan die Gereformeerde Kerken se teologiese skool in Kampen, Nederland. Tydens hierdie stu­die­jare het twee gebeure ’n groot invloed op hom, naamlik die Tweede Wêreld­oor­log* en die Vrymaking (1944) wat binne die Gereformeerde Kerken plaasvind. Die oorlog het tot gevolg dat Firet sy voltydse studie tydelik moet onderbreek (1943) en aangewys raak op selfstudie. Wanneer hy sy studie in 1945 hervat, het die Vrymaking reeds plaasgevind en besluit hy om nie die weg van afskeiding te volg nie. Ná ’n tydperk as gemeentepredikant, word hy in 1957 wetenskaplike medewerker (later direk­teur) van die Nederlandse Gerefor­meerde Jeugraad in Amersfoort. In 1963 kry hy ’n aanstelling aan die Vrije Universiteit* in Amsterdam, met ’n leeropdrag in sosiale pedagogiek. In 1968 voltooi hy ’n proefskrif Het agogisch moment in het pastoraal optreden wat allerweë as sy hoofwerk be­skou word. In dieselfde jaar volg hy Herman Bavinck* op as hoogleraar in die praktiese teologie* aan die Vrije Universiteit, ’n posisie wat hy tot met sy aftrede in 1987 beklee.

Die teologiese kern van Firet se praktiese teologie is dat die verhouding tussen Goddelike en menslike handelinge vanuit die pneumatologie* beskou word. Die wins van hierdie insig vir die praktiese teologie is dat die bewuste en beredeneerde optrede van die mens nie oorbodig is nie, maar juis deur die Gees* moontlik gemaak word. Dit skep ruimte vir selfstandige geestelike funk­sionering, vir “agogie” (die beweegkrag tot verandering), vir diskresie en kreatiwi­teit.

Vir verdere lees: J Firet 1974. Het agogisch moment in het pastoraal optreden. Kam­pen: Kok. J Firet en J Hendriks 1986. Ik heb geen mens: De anonieme pastorale relatie. ’s-Gravenhage: Boekencentrum. J Firet 1987. Spreken als een leerling: Praktisch-theologische opstellen. Kampen: Kok.

Sidebar