FISCHER, ABRAM LOUIS (BRAM)

FISCHER, ABRAM LOUIS (BRAM) (1908–1975) was die kleinseun van Abraham Fischer, premier van die Oranjerivier­kolo­nie (1907) en lid van die eerste Uniekabinet. Bram het Regte aan die Grey-Universiteits­kollege in Bloemfontein bestudeer en was as student ’n ondersteuner van genl Hert­zog* se Nasionale Party. As lid van die Council of Europeans and Natives het hy ’n besondere sensitiwiteit vir die behoeftes van swartmense ontwikkel, waarna hy ’n sterk teenstander van enige vorm van diskriminasie op grond van kleur geword het. As Rhodes-student het Fischer vanaf 1932 met verskillende ideologie*se stromings kennis gemaak. Tydens ’n besoek aan Rusland is hy veral deur die Stalinis­tiese stelsel beïndruk (Kyk by: Stalin). Hy sluit by die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party aan en raak by die African National Congress (ANC) betrokke – in 1943 het hy hulle konstitusie hersien.

Dit was veral Fischer se rol in politieke ver­hore wat sy loopbaan gekenmerk het. Hy was lid van die Kommunistiese Party se Sentrale Komitee toe dit as ongewenste orga­ni­sa­sie verklaar is. In 1953 is hy tot voor­sitter van die Vereniging vir Vrede en Vriendskap met die Sowjet-Unie verkies en hy word in 1956 lid van die verdedigingspan in ’n hoogverraadsaak. Hy was in 1963 leier van die regspan vir die verdediging in die Rivonia-verhoor toe lede van Umkhonto we Sizwe, waaronder Nelson Mandela*, van sabotasie aangekla is. Fischer was ook ge­moeid met operasie Mayibuye wat die sa­botasie grotendeels beplan het. Hy is meer­male gearresteer voordat hy in Janu­arie 1965 verdwyn het. Hy is in November 1965 opgespoor en in Mei 1966 lewenslange tronk­straf opgelê. Kort hierna, op Meidag 1967, is die Leninprys vir vrede aan hom toegeken. Fischer is in Maart 1975 vanweë gesondheidsredes vrygelaat. Hy is twee maande later oorlede.

Dertig jaar later het ’n koerantdebat in Afrikaanse kringe losgebars toe die Univer­si­teit van Stellenbosch bekend gemaak het dat ’n na-doodse eredoktorsgraad aan Fischer toegeken sou word. Die vraag was of hierdie man, uit ’n gesiene Vrystaatse Afrikaner*familie, blywend as Afrikaner-verraaier en aartskommunis verwerp, of as Afrikaner-dissident* wat apartheid* afge­wys het, vereer moes word. Uiteindelik is die eredoktorsgraad wel in 2004 postuum toegeken.

Sidebar