FLAVIANUS

FLAVIANUS (?-449). Van hom is min biografiese gegewens bekend. Van sy geskrifte het slegs drie briewe aan pous* Leo I en een aan keiser* Teodotius II behoue ge­bly. As patriarg van Konstantinopel (446– 449) het hy ’n belangrike rol gespeel in die Monofisiete-stryd. Hy was ’n besliste teenstander van die Monofisitiese dwaalleer en was voorsitter van die sinode van Kon­stanti­nopel van 448, waar die bejaarde monnik Eutiges*, wat in sy oordrewe anti-Nestoriaanse ywer die Aleksandrynse leer op die spits gedryf het, veroordeel en afgesit is. Hoewel die pous die uitspraak in sy beroemde dogmatiese brief of Tomus be­vestig, slaag Eutiges daarin om via Dio­skorus, patriarg van Aleksandrië, keiser Teodosius tot die byeenroep van ’n sinode* te beweeg. In 449 kom die sogenaamde “rowersinode” (Latrocinium) byeen waar Eutiges herstel en Flavianus afgesit word. Volgens oorlewering het die ruwe behandeling wat Flavianus op die sinode van sy teenstanders verduur het, drie dae ná die sinode sy dood veroorsaak. Die Konsilie van Chalcedon 451 het postuum sy regsinnigheid erken en hom tot martelaar en heilige verklaar. Pous Leo I verklaar in 452 dat sy voorbeeld van geloof, beskeidenheid en nederigheid hom die roem van martelaarskap waardig gemaak het en dus navolgenswaardig was.

Sidebar