FORMULIERE VAN EENHEID

FORMULIERE VAN EENHEID. Die groot Sinode van Dordrecht (1618–1619) van die Gereformeerde Kerken in Nederland het amptelik drie belydenisskrifte vir die kerk goedgekeur: die Nederlandse Geloofs­belydenis*, die Heidelbergse Kategismus* en die Dordtse Leerreëls*. Gereformeerde* kerke van Nederlandse oorsprong dwars­oor die wêreld aanvaar vandag nog hierdie drie Formuliere van Eenheid as uitdrukking van wat hulle glo.

Gereformeerdes aanvaar die drie Formu­liere van Eenheid omdat (Latyn: quia) dit met die Woord van God ooreenstem. (Sommige gebruik hier die woorde in soverre as (quatenus), maar dit kan tot leervryheid aanleiding gee.) Daarmee word gesê dat belydenisskrifte, soos die Bybel*, gesag in die kerk* het. Belydenisskrifte staan egter nie bo of naas die Skrif nie, maar “diep daaronder” (Herman Bavinck*). Die Heilige Skrif* alleen is “normerende norm”: alles moet aan hierdie maatstaf getoets word. Die belydenisskrifte is slegs “genormeerde norm”: hulle moet altyd weer in die lig van die Skrif getoets word en kan, langs behoorlike kerklike weg, verander word. (Die quia-standpunt maak sodanige verandering egter baie moeilik, indien nie onmoontlik nie.)

Vir gereformeerde* kerke is belydenisskrifte, soos die drie Formuliere van Een­heid, noodsaaklik. As uitdrukking van ge­meenskaplike geloof, bied dit die grondslag vir kerklike eenheid. Dit is ’n maatstaf vir regsinnigheid, en ’n kriterium om tussen ware en vals geloof* te onderskei. Belydenisskrifte word ook in die kategese* gebruik om die jonges te onderrig. Kerklike belydenisse dien ten slotte ook as ’n doksologie* – ’n lofsang tot verheerliking van God.

Die inhoud van die Formuliere van Eenheid verwoord basies die reformatoriese (Kyk by: Hervorming) waarhede van sola Scriptura (net die Skrif as norm en bron van geloof), sola gratia en sola fide (ons redding slegs uit genade en deur geloof), solus Christus (Christus die enigste Verlosser en Here) en soli Deo gloria (aan God alleen die eer, op elke lewensterrein).

Sidebar