FOURIE, HERMANUS CORNELIUS MARTHINUS

FOURIE, HERMANUS CORNELIUS MARTHINUS (1882–1939) is in Carolina se distrik gebore as die jongste seun van genl JC Fourie, wat tydens die Anglo-Boereoorlog* gesneuwel het. Fourie was in Nederland vir sy skoolopleiding, maar het met die uitbreek van die oorlog huis toe gekom om sy land te help verdedig. Ná die oorlog is hy terug Nederland toe om sy studie in die teologie* by die Ryksuni­versiteit in Utrecht te doen. In 1911 word hy predikant* van die Nederduitsch Hervorm­de Kerk* se gemeente* Erasmus (Bronkhorstspruit). Hy is een van die grondleggers van die Teologiese Fakulteit aan die Universiteit van Pretoria, maar het die professoraat wat hom aangebied is, van die hand gewys.

Tydens die Rebellie* is hy tot kommandant verkies. Hy is gewond en het in ’n interneringskamp beland. Daarna is hy terug Nederland toe vir verdere studie en die proefskrif waarmee hy promoveer, is Amandebele van Fene Mahlangu en hun religieus-sociaal leven. Hy bedien daarna Johannesburg (1924) en Groot-Marico (1930). Fourie was 13 tale magtig, waarvan sy voorkeur by Hebreeus*, Aramees en veral Grieks* gelê het. Dit het daartoe bygedra dat hy as een van die Bybelvertalers (Kyk by: Bybel in Afrikaans) aangewys is. Fourie was daarteen gekant dat die Afrikaanse Bybel* van 1933 ’n blote verafrikaansing van die Nederlandse State­bybel* moes wees. Hy het die kerke oor­tuig dat die vertaling opnuut uit die grondtale gedoen moes word. Hy en Totius* was die hoofvertalers van die Ou Testament*.

In 2005 is sy oorskot, saam met dié van Jopie Fourie*, in nisse in die Gedenktuin van die Voortrekkermonument-erfenisterrein geplaas.

Sidebar