FOURIE, JOSEPH JOHANNES (JO­PIE)

FOURIE, JOSEPH JOHANNES (JO­PIE) (1878–1914) was gedurende die Anglo-Boereoorlog* aanvanklik op die staf van kmdt-genl Piet Joubert*, maar het later aan die guerrilla-oorlog in die destydse Wes- en Noord-Transvaal deelgeneem. Tydens ’n aanval op ’n Britse afdeling soldate in Oktober 1901, is Jopie in die been gewond waarna hy permanent mank geloop het. Hy het ná die oorlog genls Louis Botha* en Jan Smuts* se konsiliasie- (versoenings-) politiek onder­steun en was in 1910 lid van Botha se verkie­­singskomitee. Ook met Botha se besluit tot deelname aan die Eerste Wêreldoorlog* (1914–1918), het Fourie lojaal aan hom gebly. Die keerpunt was op 10 Oktober 1914 toe ’n opruiende Engelssprekende skare die viering van Paul Kruger* se verjaarsdag in Pretoria ontwrig het. Hierna is Fourie in die Rebellie* ingesuig.

Dit alles het daartoe gelei dat Fourie, toe nog ’n kaptein in die burgermag, en sy kommando’tjie op 16 Desember 1914 deur ’n oormag oorrompel is. Hy is van hoogverraad aangekla. Sy destydse verklaring voor die hof toon interessante parallelle met die bekende hofverklaring van die latere pres. Nelson Mandela* in 1963. Nadat verskeie petisies ontvang is, het ’n afvaardiging onder leiding van dr DF Malan* tevergeefs probeer om genl Smuts by sy Doornkloof-plaas te spreek oor ’n moontlike strafversagting. Ná die aanhoor van sy doodsvonnis op die laaste aand van sy lewe, is ds HC Bosman* van die Bosmanstraatse kerk ontbied. Ds CA Neethling het hierna dwarsdeur die nag by die terdoodveroordeelde gebly toe Fourie voortdurend uit sy kommando-sakbybeltjie gelees het of gebid het. Daar is ook saamgebid, saamgesing en saamgepraat met Fourie wat sy laaste briewe en ’n kort testament geskryf het. Fourie is met sonsopkoms op Sondag, 20 Desember 1914, gefusileer.

Jopie Fourie se vroeë dood het meegebring dat hy nog vir dekades lank as ’n tragiese held en slagoffer van politieke omstandighede gehuldig is. Fourie se wens in sy “politieke testament” – dat sy bloed die boom van die Afrikaner-nasionalisme* sou benat – sou inderdaad bydra tot die radikalisering van dié vorm van nasiona­lisme.

Sidebar