FOX, GEORGE

FOX, GEORGE (1624–1691) is bekend as prediker (Kyk by: Prediking) en stigter van die Religious Society of Friends*, ook bekend as die Kwakers.

Op 19-jarige ouderdom, toe hy leerling-skoenmaker was, beleef hy ’n godsdienstige krisis en kom tot die slotsom dat ’n mens nie op kerklike seremonies moet staat maak om Christus* te leer ken nie, maar op ’n in­ner­like lig. In 1647 word hy rondreisende pre­diker en maak bekeerlinge dwarsdeur Enge­land. Teen 1660 is daar Kwakers in Ierland, Amerika en die Wes-Indiese Eilan­de.

Die beweging word veral tydens die bewind van Oliver Cromwell* (1649–1660) vervolg en Fox kry meermale tronkstraf. Dit is vir hom geleenthede om sy boodskap onder die tronkbevolking te versprei. Toe regter Bennet van Derby hom in 1650 weens beweerde godslastering* vonnis, sou Fox geantwoord het dat hy nie voor mense bewe (“quake”) nie – slegs voor God. Daarna gaan die naam “Quakers” op die hele beweging oor.

Fox is sterk op sending*werk ingestel en hy besoek Amerika in 1671–1672.

Dit is sy standpunt dat mans en vroue gelykes op geestelike gebied is en dat eerbetoon aan mense verkeerd is (hy weier om sy hoed voor ’n regter af te haal). Kwakers is pasifiste (Kyk by: Pasifisme) en hulle byeenkomste word deur meditasie* en stilte gekenmerk.

 

Sidebar