FOXE, JOHN

FOXE, JOHN (1516–1587). Nadat Foxe in Oxford gestudeer en ’n dosentskap aldaar beklee het, verhuis hy in 1547 na Londen waar hy diaken*2 in die Anglikaanse Kerk* en onderwyser word. Daar begin hy met sy navorsing oor die geskiedenis van Christe­like martelare* deur die eeue. Toe die Kato­lieke* Maria I (Maria Tudor of beter bekend as Bloody Mary) die Engelse troon in 1553 bestyg het, vlug Foxe na Straatsburg in Frankryk waar hy die eerste uitgawe van sy boek oor die martelare publiseer. Ná ’n verblyf in Frankfurt, Duitsland, vestig hy hom in Basel, Switserland. Dáár is ’n tweede uitgawe van sy boek gedruk waarin die vervolgings onder Maria I bygewerk is.

Nadat Elizabeth I in 1558 as koningin gekroon is, keer Foxe na Engeland terug en in 1563 word die finale uitgawe van sy Actes and Monuments of these Latter and Perillous Dayes gepubliseer – beter bekend as die Book of Martyrs. Hierdie boek beleef talle herdrukke en is so onlangs as 2000 heruitgegee. Dit was ’n invloedryke geskrif wat die wreedhede van die Inkwisisie* beskryf en lank ’n anti-Katolieke sentiment in meeste Protestantse* lande lewend gehou het. Alhoewel Foxe soms onkrities met sy bronne omgegaan het, is sy werk ’n waar­de­volle bydrae oor die Kerkhervor­ming* in Engeland.

Sidebar