FRANCISKUS (VAN ASSISI)

FRANCISKUS (VAN ASSISI) (1181–1226). Franciskus is gebore as die seun van ’n ryk handelaar in kledingstof. Van sy tienerjare al was hy ’n leier onder Assisi se gegoede jeug, voordat hy op 25 vir ’n jaar ernstig siek was. Daarna het hy in gebed* sy lewensdoel gesoek. Hy het ervaar dat Jesus* hom in ’n bouvallige kerkie van die kruis af ge­roep het om sy kerk te herbou. Franciskus het dié opdrag aanvanklik letterlik opgevat, al was Jesus se bedoeling dat hy die kerkgemeenskap moet vernuwe. Franciskus het van sy welvarende leefwyse afstand gedoen, die melaatses bedien, saam met die armes gewerk, en met almal oor Jesus gepraat. Ander mans, leke en priesters*, het hulle om hom geskaar.

Vanweë sy algehele getrouheid aan die kerk, het hy pous Innocentius III se goedkeuring in 1209 vir sy evangeliese lewens­wyse gevra. Sy volgelinge het vinnig toegeneem, en hy het hulle in alle rigtings uitgestuur. Vir vroue* wat die evangelie* onder sy toesig wou uitleef, het hy die Arm Klariste-Orde gestig, en vir leke (nie-geestelikes) die Derde Orde wat vandag as die Sekulêre Franciskaanse Orde bekend staan. In 1219 het hy die sultan besoek in ’n poging om vrede tussen die kruisvaarders en Moes­liems* te bewerkstellig. Franciskus het in September 1224 ervaar dat Jesus sy liggaam met sy eie kruiswonde beseël het. Hy is ná ’n lang siekte, wat hy met vreugde verduur het, oorlede.

Pous* Franciskus* is die eerste pous in die geskiedenis wat by sy diensaanvaarding in 2013 die naam van Franciskus as ampsnaam gekies het – juis ook omdat hy begaan is oor die lot van die armes.

Sidebar