FRANCISKUS

FRANCISKUS (1937-), gebore as Jorge Mario Bergoglio, getoë in Buenos Aires waar hy as Katolieke priester*2 en mettertyd as kardinaal* gedien het, is op 13 Maart 2013, toe hy reeds 76 jaar oud was, as pous* verkies. Hy is die eerste pous in eeue wat ’n nog lewende voorganger opgevolg het. Benediktus XVI* het naamlik vroeg in 2013 geabdikeer. Franciskus, die eerste pous met die ampsnaam “Franciskus” ter ere van Franciskus van Assisi*, was ook die eerste Argentyn om pous te word. Dit was van die staanspoor die strewe van pous Franciskus om, nes Franciskus van Assisi, vir die armes en verontregtes in die bres te tree. Hy het dadelik bekend geword vir sy “menslike” aanslag, in teenstelling met sy voorganger wat soms baie rigied opgetree het. Toe Bergoglio deur die kieskollege gevra is of hy die verkiesing as pous aanvaar, het hy gesê: “Ja, alhoewel ek ’n groot sondaar is”, en hy het daarna, toe hy op die balkon voor die skare op die St Pietersplein verskyn het, hulle gevra om vir hóm te bid. Hy het doelbewus uitgereik na mense op die rand van die samelewing en het minder veroordelend oor homoseksuele* mense as sy voorgangers gepraat. Toe joernaliste hom hieroor gepols het, het hy onder meer opgemerk: “Wie is ek om te oordeel?” ’n Voorgestelde oper benadering tot homoseksuele mense en ’n verslag waarin onder meer gevra is dat Katolieke wat geskei is en ’n nuwe huwelik* aangegaan het, tot die eucharistie* toegelaat word, het egter nie die vereiste tweederde-meerderheid van ’n vergadering van biskoppe* wat pous Franciskus in Oktober 2014 byeengeroep het, gekry nie. Dit bly daarom ook ’n vraag of sy benadering om aan die Katolieke Kerk* ’n vriendeliker en meer deernisvolle gesig te gee – wat ná die skandaal van priesters wat kinders in hulle sorg gemolesteer het, vir dié kerk absoluut noodsaaklik geword het – nie op stuk van sake deur die kerklike strukture geblokkeer sal word nie.

Vir verdere lees: Austin Ivereigh 2014. The Great Reformer: Francis and the Making of a Radical Pope London.        

 

Sidebar