FRANCKE, AUGUST HERMANN

FRANCKE, AUGUST HERMANN (1663–1727) was naas Philip Spener* een van die prominentste vroomheidsdenkers (Kyk by: Vroomheid) in Duitsland gedurende die 18de eeu. Hierdie mense se invloed het ver oor hulle eie landsgrense gestrek en die Duitse vroomheidstradisie van hierdie era moet in samehang met die Nederlandse Nadere Reformasie* of gereformeerde* piëtisme* en die Engelse puritanisme* bekyk, be­stu­deer en beoordeel word. Francke is in 1663 in Lubeck in Duitsland gebore, waarna hy in Erfurt en Kiel gestudeer het. In 1684 word hy professor in Hebreeus* in Leipzig en in 1698 professor in teologie* in Halle. Hy het ’n groot rol gespeel om van Halle ’n belangrike sentrum van vroomheid en sending*ywer te maak. Hy het ook baie gedoen in verband met die opheffing van wese, die onderwys en die publikasie van boeke.

Sidebar