FRANKL, VICTOR EMIL

FRANKL, VICTOR EMIL (1905–1997) was die stigter van die psigoterapeutiese skool wat as Existenzanalyse en Logothe­rapie bekend geword het. Hy studeer in Wenen onder Alfred Adler en verwerf in 1930 sy graad in neurologie en psigiatrie. Later behaal hy ook ’n doktorsgraad in filosofie*. Hy word hoof van die universiteits­kliniek vir neurologie en psigiatrie totdat hy, synde ’n Jood*, in 1941 deur die Nazi’s* na ’n konsentrasiekamp gestuur word. Ná die Tweede Wêreldoorlog* word hy professor in neurologie en psigiatrie in Wenen. Sy opleiding en sy ervarings in konsentrasiekampe, gee aanleiding tot verskeie boeke. Die sentrale tema is dat die lewe sin maak, al moet ’n mens ly en die dood* in die gesig staar. Die lewe het sin as ’n mens positiewe waardes realiseer.

Frankl sien die waarde van enige gods­dienstige geloof* in as ’n anker vir mense in nood. Dit kan help om sin in die lewe* en lyding* te ontdek. Hy doen met sy dimensionele ontologie ’n unieke oplossing aan die hand vir die liggaam*-siel*-gees-problematiek en vir die verhouding tussen die menslike wilsvryheid en God se voorsienig­heid*.

Frankl het sedert 1962 verskeie besoeke aan Suid-Afrika gebring en hy is met ere-doktorsgrade van verskeie universiteite vanoor die wêreld vereer.

Sidebar