FREUD, SIGMUND

FREUD, SIGMUND (1856–1939) het veral in Wenen, Oostenryk, grootgeword en het feitlik sy hele volwasse lewe daar deurgebring. Ná sy studie in die medisyne, spesialiseer hy in neurologie. Hy maak van hipnose gebruik om histeriese pasiënte te genees en dit lei tot die formulering van sy sielkundige teorie, naamlik psigoanalise. Hierdie benadering berus grotendeels op vrye assosiasie. Die pasiënt word toegelaat om oor enigiets wat in sy gedagtes opkom, te gesels, en (so is gehoop) daardeur sy onbewuste en onderdrukte vrese, drange en begeertes tot bewussyn te bring. Baie aandag word ook aan die uitleg van drome geskenk. Insig in sy/haar probleme sou die pasiënt help om hierdie probleme te bowe te kom.

Psigoterapie bestaan gewoonlik uit daag­likse sessies vir maande en selfs jare. In die proses trag die psigiater om die pasiënt se persoonlikheid te rekonstrueer. Volgens Freud het die menslike persoonlikheid drie komponente: die Ich (die Ego, die bewuste deel), die überich (die Superego, oftewel gewete, wat grotendeels deur die persoon se opvoeding bepaal word en sy waarde­stelsel omvat), en die Es (die ID, die onbewuste setel van drange en begeertes, veral die seksdrang). Botsings tussen die überich en die Es sou, volgens Freud, tot neuroses aanleiding gee. Hy meen dat die aanwesigheid van godsdienstige geloof* ’n teken van neurositeit is en dat dit deur middel van psigoanalise oorkom kan word.

Toe Nazi*-Duitsland Oostenryk in 1938 geannekseer het, het Freud (van geboorte ’n Jood*) na Engeland uitgewyk, waar hy ’n jaar later aan kanker gesterf het.

 

Sidebar