FREYTAG, WALTER

FREYTAG, WALTER (1899–1959) was van huis uit grootliks beïnvloed deur Ludwig von Zinzendorf* se Unitas Fratrum, ’n geskrif waarin groot klem op geestelike toewyding gelê is. Hy sou ook as Hern­hutter* beskryf kon word. Die stormagtige jare van die Tweede Wêreldoorlog* het ’n groot invloed op sy lewe gehad en hy is aan die einde van die oorlog deur die Nazi*-be­wind die swye opgelê. Freytag het ’n groot rol in die internasionale sending*konferensies te Jerusalem (1928) en Ghana (1957/8) gespeel. Alhoewel hy skerp krities teen die volksideologie van die nasionaal-sosia­lisme* was, het hy tog begrip gehad vir die feit dat die kultuur* en sosiale patrone van volke in ag geneem moet word indien die kerk* sou moes groei. Twee groot sake in die sending is deur Freytag beklemtoon. Saam met Karl Hartenstein het hy die begrip Missio Dei (God se sending) beklemtoon, soos wat dit volledig deur Karl Barth* uitgewerk is. Hy het ook by Ghana (1957/8) die belangwekkende vraag gestel: “Wat is sending?” en daarop gewys dat die sending voorheen probleme gehad het, maar nou self die groot probleem geword het. Freytag het aan die Duitse sending ná die Tweede Wêreldoorlog weer selfrespek gegee.

Vir verdere lees: GE Anderson en andere (red) 1994. Mission Legacies: Biographical Studies of Leaders of the Modern Missio­nary Movement. New York: Orbis.

 

Sidebar