FRIGIË

FRIGIË was ’n streek in die binneland van Anatolië. Dit is in 116 vC deur die Romeine in die provinsie Asië* (Kyk by: Romeinse Ryk) ingesluit. Frigië het ’n eie nasionale identiteit gehad, met ’n eie taal wat tot diep in die derde eeu nC gepraat is.

Antiogus* III het tussen 210 en 205 vC groot getalle Joodse* families as militêre setlaars in Frigië geplaas – die vroegste Joodse nedersetting in Klein-Asië. Uit grafskrifte blyk dit dat hulle deel van die gemeenskap geword het. Hulle het daar aangebly (Hand 2:9-10; 6:9-15). Kolosse*, Laodisea* en Hierapolis was onder andere deel van Frigië (Hand 14:6-7; 16:6-10; 18:21-23). Daar was florerende Christelike gemeenskappe in die 2de en 3de eeue. Papias was biskop* van Hierapolis in Frigië tot 130nC.

Vir Grieke was Frigiërs barbare en vir Romeine was hulle onbeskaaf en net goed om slawe* te wees. Die Frigiese moedergod en haar jong minnaar Attis is die bekendste gode uit Frigië. Die Romeine was beïndruk met hierdie ekstatiese kultus, wat waarskynlik vrugbare grond vir die ontwikkeling van Montanisme* was. Montanus, en later Maksimilla en Prisca, het onder andere oor die wêreldeinde begin profeteer. Hiervolgens sou die hemelse Jerusa­lem* op twee Frigiese dorpies, Pepusa en Timin, neerdaal.

Sidebar