FUNDAMENTALISME (1)

FUNDAMENTALISME (1) het as rigting in die Protestantse* Christendom* sy ontstaan hoofsaaklik in Noord-Amerika gehad (1920’s) met sy grootste invloed steeds in die VSA onder konserwatiewe evangelikale* (evangelicals). Dit het later wêreldwyd as veral anti-modernistiese Protestantse* bewegings gemanifesteer. Hierdie term het mettertyd ’n breë koalisie van evangeli­kaalse Protestante beskryf wat soms op mi­litante manier teen enige vorm van liberale (Kyk by: Liberalisme) teologie* of sekularisasie* gekant was.

Om iemand as ’n (Christen-)fundamentalis te be­skryf, beteken normaalweg dat hy/sy die fundamentele waarhede van die tradisionele Bybelse Christendom onderskryf waarvan die onfeilbaarheid van die Skrif*, die twee nature van Christus*, sy maagdelike geboorte, sy plaasvervangende redding, sy opstanding* en sy tweede koms die belang­rikste is. Fundamentaliste handhaaf ook meestal ’n letterlike verklaring van die Skrif, soos bv die skepping* waarvan hulle die Genesis*-verhaal as ’n presiese weergawe beskou. Meermale kom onverdraagsaamheid teenoor andersdenkendes by hulle voor.

Histories gesien, het fundamentaliste hulle in die 1930’s begin afskei van geloofsgroepe wat moderniste geakkommodeer het. Hulle het hulle eie gemeentes en deno­minasies gestig. In die 1940’s het ’n groot groep fundamentaliste ’n minder militante en ’n meer inklusiewe benadering begin volg deur bande met hoofstroomkerke te probeer herstel.

’n Groep militante fundamentaliste het hierop gereageer deur te beweer dat hulle die enigste ware fundamentaliste is wat oorgebly het. Ná 1960 het hierdie subgroep hulleself onderskei van die breër evangelikalisme. Seperatistiese fundamentalisme het gegroei, maar nooit tot meer as 12,6% van Amerika se evangelikale nie. (Kyk ook: Evangeliese fundamentalisme.)

 

Sidebar