GALASIËRS, DIE BRIEF AAN DIE (BYBELBOEK)

GALASIËRS, DIE BRIEF AAN DIE (BYBELBOEK), is een van Paulus* se hoofbriewe. “Galasië” kan na een van twee gebiede verwys: 1. ’n Landstreek in die hart van Klein-Asië (in die omgewing van die huidige Ankara in Turkye); 2. Die Romeinse provinsie wat, afgesien van die landstreek hierbo genoem, ook die suidelike gebiede soos Frigië*, Likaonië* en Pisidië insluit. Indien 1 korrek is, het Paulus die brief aan die Galasiërs tussen 52 en 55 nC uit Efese* geskryf; indien 2 korrek is, is die brief tussen 50 en 52 nC uit Korinte geskryf. Die feit dat Handelinge* Paulus se bediening mees­tal in die suidelike gedeeltes van Gala­sië plaas (Hand 13, 14, 16), maak 1 dalk ’n beter keuse.

Met sy brief waarsku Paulus die ge­meen­tes* in Galasië teen ’n groep dwaalleraars* wat ná sy vertrek in die gemeentes aange­kom het en ’n vals weergawe van die evan­gelie* verkondig het. Hulle was waarskynlik erg behoudende Joodse* Christene wat Paulus se apostelskap ontken en bande met Jerusalem* gehad het. Hulle het die Gala­siërs probeer oortuig dat hulle, afgesien daarvan om in Christus* te glo, ook die Joodse wet* moes nakom. Dit het behels dat die Galasiërs (wat oorspronklik hei­dene* was) besny* moes word en ook al die ander Joodse wette moes nakom (Gal 4:9-10). Volgens Paulus beteken dit dat God se genade* misken word en dat Christus te­vergeefs gesterf het (2:21).

Die brief kan in ses dele verdeel word: 1. Paulus probeer die lesers oortuig dat hy inderdaad ’n apostel is en dus gesag* het (1:1–2:10); 2. Hy argumenteer dat sy evange­lie korrek is – die kern waarvan is dat God mense van hulle sonde* vryspreek omdat hulle in Christus glo en nie omdat hulle die wet stiptelik nakom nie (2:11–3:14); 3. Die wet was slegs ’n tydelike maatreël van God en die rol daarvan is met die koms van Christus uitgedien (3:15-25); 4. Die vals evangelie van die teenstanders maak van hulle geestelike slawe*, maar die ware evangelie bied hulle geestelike vryheid* (3:26– 5:1); 5. Fokus op die praktyk: Die Galasiërs moenie swig voor die druk om besny te word nie, hulle moet die opponente vermy – hulle moenie voor hulle sondige natuur swig nie, maar toelaat dat die Gees* hulle gedrag bepaal (5:2–6:10); 6. Die slot van die brief word deur Paulus gebruik as finale weerlegging van die opponente (6:11-18).

 

Sidebar