GALILEA

GALILEA kom van galil, Hebreeus* vir “distrik”. Die Bybelse Galilea het hoofsaaklik aan heidense* gebied gegrens. Die See van Galilea is ’n varswatermeer oos van Galilea. Die Israelitiese (Kyk by: Israel2) stamme wat hulle in Galilea gevestig het, kon die inheemse bevolking nie verslaan nie, sodat hulle daar saam gebly het (Rig 1:30-35). Sedert die Assi­riese ballingskap*1 was daar steeds meer ver­menging. As gevolg hiervan, en omdat Galilea nie altyd sy grense goed kon beskerm nie, het die afstammelinge van die koninkryk Juda*4 hulle geminag (Joh 1:46; 7:52). Galileërs was herkenbaar aan hulle uitspraak (Matt 26:73).

Volgens die Lukas*-Evangelie begin Jesus* se werk in Galilea en eindig dit in Jerusalem*. Hy reis dus van ’n gebied wat godsdienstig minderwaardig geag is na die Tempelstad, waarvandaan Hy na die hemel* opvaar (Luk 9:51). In die Matteus*-Evangelie is Jerusalem die stad wat sy profete* doodmaak (23:37-38), sodat God na ’n ander volk sal omsien (21:43). Jesus se reis van Jerusalem na Galilea simboliseer hierdie gedagte.

Jesus was baie suksesvol in Galilea, maar Hy is ook daar verwerp (Luk 4:29; Matt 11:20-24). Hy het vanuit Galilea ook die omliggende heidense gebiede besoek (Matt 15:21-28; 16:13-20; Mark 5:1-20). Sy sukses in die Dekapolis blyk uit die aanwesigheid van Christene* in Damaskus* (Hand 9:1-25).

 

Sidebar