GALILEI, GALILEO

GALILEI, GALILEO (1564–1642) se naam het sinoniem geword met die wetenskaplike rewolusie van die 16de eeu. Galileo het waarskynlik meer tot die totstandko­ming van die moderne natuurwetenskap bygedra as enigiemand anders. Daar word na hom verwys as die vader van die mo­derne astrologie, die vader van die moderne fisika en die vader van die wetenskap. Hoewel hy nie self die teleskoop uitgevind het nie, het hy dit nuut ontwerp en was een van die eerste mense om die sterrehemel daarmee te verken.

Sy botsing met die Katolieke Kerk* is een van die beste voorbeelde van die spanning wat daar in die 16de eeu gekom het tussen die gesag van die Katolieke Kerk en die vryheid van denke wat in die Westerse ge­meenskap ontwikkel het ten opsigte van veral die wetenskap. Galileo was ’n toege­wyde Katoliek, maar sy werk het die letterlike verstaan van die Bybel* uitgedaag toe hy verklaar het dat die aarde om die son draai, dat nie die aarde of die son die middelpunt van die heelal is nie, en dat daar ook ander sonnestelsels is. Met sy boek, Dialogo sopra i due massimi sistemi del mondo (vertaal as The Dialogue Con­cerning the Two Chief World Systems) wat in 1632 gepubliseer is, beland Galileo finaal in die kerklike warm water en hy word lewenslank onder huisarres geplaas nadat hy aan kettery* skuldig bevind is.

Eers 350 jaar ná sy dood erken pous Johannes Paulus II op 31 Oktober 1992 dat die kerk foute begaan het in sy saak teen Galileo.

Sidebar