GALLIO, JUNIUS ANNAEUS

GALLIO, JUNIUS ANNAEUS (circa 0–65). ’n Inskripsie wat in 1905 in Delfi ontdek is, bewys dat Gallio prokonsul van Agaje* in 51–52 nC was. Dit stel ons in staat om Paulus* se bewegings in Korinte te dateer. Die prokonsuls het termyne van een jaar gedien. Volgens Hand 18:12-17 het Paulus voor prokonsul Gallio verskyn om­dat Paulus probeer het om die mense oor te haal “om God op ’n manier te vereer wat in stryd is met ons wet”. Gallio het volstrek geweier dat die Jode* Paulus kon vervolg (Hand 18:14). Gallio was die broer van die filosoof Seneca en is in 65 nC deur Nero* tereggestel.

Sidebar