GAM

GAM is die tweede van Noag* se drie seuns. Ná die vloed (wat hy saam met Noag oorleef het) doen hy ’n onaanvaarbare ding. Terwyl Noag dronk en kaal in sy tent gelê het, het Gam hom oneerbiedig behandel (Gen 9:20). Vreemd genoeg, vervloek Noag daarna vir Kanaän* (volgens die teks ’n seun van Gam) sodat hy ’n nikswerd slaaf sou wees en sy broers moes dien (Gen 9:25). Dit was verbode in die Israelitiese tradisie (Lev 18:7-19; 20:11-21) om die naaktheid van ’n ouer te aanskou. Die hele gebeurtenis het ’n seksuele ondertoon.

Hierdie verhaal is dikwels in die inter­pre­tasiegeskiedenis gebruik om slawerny* en onderdrukking te regverdig. Gam se na­ge­slag word aangedui as Kus*, Egipte*, Put en Kanaän (Gen 10:6-20). Vroeë interpretasies het die nageslag van Gam met Afrika* geassosieer, en het ten onregte die afleiding gemaak dat swartmense vervloek is en hulle broers moes dien. Hierdie interpretasies is byvoorbeeld deur sommige ekstre­miste gebruik om slawerny in die vroeëre VSA te regverdig, sowel as apartheid* in Suid-Afrika.

Daar moet egter daarop gelet word dat Gam nie vervloek word nie, maar wel Ka­naän. Uitleggers wys daarop dat hierdie verhaal ’n polemiek wou wees teen die Kanaäniete (met hulle vrugbaarheidsrites) wat deur die Israeliete (Kyk by: Israel2) verafsku is. Die verhaal word verder ingebed in ’n kritiese stem wat opgegaan het teen die maghebbers van die destydse wêreld. In hierdie opsig is die verhaal uiters relevant vir ons tyd.

Sidebar