GEESTELIKE LEIDING

GEESTELIKE LEIDING is die hulp wat ’n gesagsfiguur, gewoonlik ’n geestelike leier of pastor, aan mense bied om te groei tot selfstandige geestelike funksionering. In Ef 4:13 verduidelik Paulus* dat die uiteindelike doelwit van geestelike leiding geestelike volwassenheid is.

In alle godsdienstige bewegings ontmoet ons figure wat aangedui word as “meester”, “rabbi”*, “guru”, “wyse” of “leraar”* wat ’n be­sondere gesag verteenwoordig en op geestelike vlak aan mense leiding verskaf. Innig verbind aan hierdie gesagsfiguur, is daar gewoonlik ’n boek waaruit die reëls tot leiding afgelei word. In die geval van die Christendom* is dit die Heilige Skrif*. Die Ou Testament* ken uitgebreide reëls vir geestelike leiding en ons vind dit veral in die boeke Spreuke* en Prediker*. “Wys­heid*” is hier gerig op die praktyk van die lewe. In die Nuwe Testament* word Jesus* as ’n “rabbi”, ’n geestelike leier, aangespreek omdat sy woorde van groot wysheid spreek en besondere oortuigingskrag het. Naas die prediking*, kategese* en so meer, is die kerklike tug* – soms met groot om­stredenheid – in die Protestantse* tradisie aangewend as vorms van geestelike leiding.

Ons tyd, gekenmerk deur mense se vervreemding van geestelike waardes, groeiende intellektuele twyfel en, by sommige, ’n soeke na ’n alternatiewe geestelike tuiste, vra opnuut na sinvolle geestelike leiding. Die Bybel* bied steeds riglyne vir die groei tot geestelike volwassenheid en vir die hantering van hedendaagse vraag­stukke. Eietydse geestelike leiding sal egter daarmee rekening moet hou dat ’n funda­mentalistiese* benadering tot die Skrif onbevredigend is en dat geestelike leiers sodanig onderlê moet wees dat hulle die blywende boodskap van en die morele riglyne wat die Bybel bied, vir ons tyd kan dekodeer.

Sidebar