GANDHI, MOHANDAS KARAMCHAND (MAHATMA)

GANDHI, MOHANDAS KARAMCHAND (MAHATMA) (1869–1948) het in Londen regte bestudeer en daarna in Bombaai gepraktiseer. Hy kom in 1893 na die Zuid-Afrikaansche Republiek as regsverteenwoordiger van Moesliem*-families. Hier het sy lewensbeskouing belangrike veranderings ondergaan. Ná die geboorte van die egpaar se vierde kind het hy in 1906 die leer van Brahmacharya (selibaat*belof­te) aanvaar en besluit om in armoede te leef. Dit het Gandhi tot die formulering van Satyagraha (geestes- of sielekrag) gelei wat met vreedsame verset geassosieer word, maar veral die najaag van die waarheid be­klemtoon het. Van 1907 tot 1914 lei Gandhi die Indiër-verset teen diskriminerende maat­reëls in Suid-Afrika en stig hy onder meer die Tolstoi-plaas in Natal en die Tolstoi-nedersetting in die destydse Trans­vaal om ’n kommunale lewenswyse te be­vorder.

By Gandhi se terugkeer in 1915 na Indië het die digter Rabindrath Tagore aan hom die titel Mahatma (Groot Gees) gegee en word hy leier van die oorwegend Hindoe*-Kongresbeweging. Met sy lydelike verset eis hy steeds groter hervormings en regte vir Indiërs in die Brits-beheerde Indië op. Hy kon egter nie terreurdade verhoed nie en is vier keer tronkstraf opgelê – waar hy met hongerstakings begin het. Gandhi het teen 1931 in Londen begin met onderhandelings en op volle Indiese onafhanklikheid aangedring. Die verset van Moesliems teen ’n Hindoe-oorheerste staat het hom verder beweeg om met die laaste twee Britse onderkonings in Indië oor die land se verdeling te onderhandel. Dit lei op 15 Augustus 1947 tot die proklamasie van twéé onafhanklike state (Indië en Pakistan). Hindoe-volgelinge het hom as ’n heilige beskou, maar ander was sterk gekant teen die landsverdeling waarby hy regstreeks betrokke was. Die gevolg was op 20 Januarie 1948 ’n onsuksesvolle aanslag op sy lewe. Tien dae later is hy deur ’n ander jong radikale Hindoe doodgeskiet.

Bekend is Gandhi se opmerking dat hy waardering het vir die leer en lewe van die Christus* van die Christene*, maar heelwat minder vir die Christene en hulle doen en late.

 

Sidebar