GANSFORT, WESSEL HARMENSZ

GANSFORT, WESSEL HARMENSZ (1419–1489) was ’n groot aanhanger van Thomas à Kempis*. Hy was so ’n bekwame dosent in teologie* en filosofie*, in Grieks* en Hebreeus*, dat hy “die lig van die wêreld” genoem is. Op sy vele reise het hy besoeke afgelê in onder andere Basel, Florence, Venisië en Rome, waar hy die la­tere pous* Sixtus IV en kardinaal Bessarion ontmoet het. Ná 25 jaar se studie het hy in ongeveer 1475 na Nederland teruggekeer. Van sy opvattings, wat in sommige opsigte heelwat van die leer van die Katolieke Kerk* afgewyk het, is die volgende: die kerk*, die pous* en die konsilies* kan dwaal; alleen die Heilige Skrif* en die tradisie van die apostels* is onfeilbaar; dit kan jou plig wees om jou teen die kerklike owerheid te verset. Ten opsigte van die nagmaal* het Gansfort die transsub­stansiasieleer* aanvaar. In sy leer oor die regverdigmaking* was hy totaal Katoliek; en goeie werke* is verdienstelik. Vanweë sy Augustiniaanse (Kyk by: Augusti­nus) denk­beelde, sy verset teen die Aristo­te­liese filo­sofie, sy liefde vir die grondtale van die Bybel* en die klem wat hy op persoonlike vroomheid gelê het, kan Gansfort ’n voorloper van die Hervorming* genoem word.

Vir verdere lees: “Gansfort” in: FW Grosheide en GP van Itterzon 1957 Chris­telijke Encyclopedie. Kampen: Kok. M van Rhijn 1933. Studiën over Wessel Gansfort en zijn tijd. Utrecht:

Sidebar