GASVRYHEID

GASVRYHEID is in Israel* as ’n groot deug* beskou (Gen 18; 24:17-32; 2 Kon 4:10). Gaste kon volksgenote of vreemdelinge* wees. Die Israeliete het gasvryheid van mekaar verwag (Rig 19:11-13), en ook die vreemdeling moes volgens die tora (Kyk by: Pentateug) beskerm word (Deut 10:18-19). Dis merkwaardig, omdat buite Israel die lot van vreemdelinge gewoonlik nie as ’n prioriteit beskou is nie. Met gasvryheid is erken dat die ander ook ’n beelddraer van God is (Kyk by: Beeld van God). Daarom is gasvryheid ook teenoor die swakkes (weduwees en wese) as besonder belangrik geag, as die moreel regte ding om te doen (Job 31:16-32). Ongasvryheid wys op immoraliteit – dit gaan gepaard met verkragting*, moord* en die onthouding van ’n laaste rusplek aan ’n dooie (Rig 19; Gen 19).

Die Griekse* woord xenos beteken sowel vreemdeling, nie-burger, as gasheer. Gas­vryheid weerspieël dus ook die weder­kerige plesier in die gas/gasheer-verhou­ding, waarby die rolle soms omgedraai word (Hand 8:26-39; Rom 1:10-12). Gasvryheid reik uit oor grense (Hand 11:19-30; 18:27). Dit gee ons ’n voorsmaak van God se koninkryk*. Daarom gaan berou* en versoening* dikwels daaraan vooraf (Luk 15:11-24; Hand 2:37-47).

God word as ’n gasheer beskryf (Jes 25:6-8; Ps 23:5), maar óók as ’n gas (Gen 18:13); so ook Jesus* (Matt 10:40; 25:31-46; Luk 24:28-31; Joh 14:2; Op 3:20).

 

Sidebar